Ons motorhek het onlangs probleme gegee.

Ons het die motor ontkoppel en moes die hek met die hand oop- en toemaak.

In die harwar het die motorhek ’n liniaallengte oopgestaan.

Net wyd genoeg dat een van ons honde kon uitglip.

Toe ons agterkom dat ons troeteldier nie meer in die erf is nie, het ons dadelik in ’n voertuig gespring en straat op en straat af gery.

Gesoek. Geroep. Gehoop.

Ons honde is mensliewend en goedgelowig. Hierdie hond sou beslis in die eerste voertuig spring wat met ’n oop deur langs hom stilhou.

Ná ’n lang soektog het ons hardop gehoop dat hy dalk intussen sy pad huis toe gevind het.

Ons het huiswaarts gekeer.

Tuis was daar egter geen teken van hom nie.

’n Paar minute later het iemand ons gebel. Hulle het ons hondjie gekry. In ’n ander buurt. Baie ver van ons huis af.

’n Man het hom glo gejaag, en gesê hy weet wie die eienaar van die diertjie is.

Die vreemdelinge het onraad vermoed en self ons hondjie in die hande gekry.

Hulle het die selfoonnommer op sy halsbandjie geskakel en hom veilig aan ons terugbesorg.

Dankie vir diegene wat besef hoe afhanklik mens en dier van mekaar is. Wat besef in hoeveel moeilikheid ’n dier kan beland.

Dankie vir mense wat moeite doen om verlore diere aan hul eienaars terug te besorg.

Julle is kosbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article