“Ek het twee woorde vir Mamma,” sê sy. Ek bly roerloos staan en wag.
“Expectation management.”
Ek glimlag.
“Nee, regtig. Mamma verwag te veel van die mensdom.”
Ek skud my kop.
“Nee, ek verskil van jou.”
Ek verwag niks meer of minder van ander mense as wat ek van myself verwag nie.
Boonop, daar is mense van wie ’n mens meer kan verwag. Meer moet verwag. Meer mag verwag.
Mense wat baie meer as die gemiddelde mens bereik het en wat soveel geleenthede oor hul pad kry. Mense wat bekend staan as professioneel en suksesvol.
Ek verwag basiese goeie maniere.
Ek verwag dat iemand betyds sal laat weet as hulle nie ’n afspraak kan bywoon nie of laat gaan wees.
Ek verwag dat iemand ’n e-pos sal beantwoord as ’n vraag gevra word.
Ek verwag respek.
Verwag ek te veel?
Hoe gaan die pad vorentoe lyk as elkeen sy maatstaf moet inkort om by ander aan te pas wat nie basiese goeie maniere het nie? Waar gaan dit eindig?
Iewers moet ’n maatstaf wees wat aandui dat die samelewing nie onder hierdie peil gaan daal nie.
’n Mens kan nie dieselfde van almal verwag nie. Dit is vanselfsprekend. ’n Mens oordeel mense tog volgens hul agtergrond, lewensgehalte, kennis, opvoeding en ondervinding.
Maar daar is diegene van wie ’n mens meer kan verwag. Meer moet verwag. Meer mag verwag.


