Soms sien ’n mens dat ’n eiendom te koop is met die beskrywing daarvan wat in alle eerlikheid lees: “In need of TLC.” Dit beteken, in baie gevalle, dat ’n groot klomp geld en baie tyd op hierdie eiendom bestee moet word.

Dit beteken die eiendom het potensiaal. Jy sal moet help dat dit ontwikkel word.

In verskeie wêrelddele skuil diamante in die aardkors. Tyd en arbeid en geld is nodig om die diamante na die oppervlak te bring om ’n inkomste te genereer. Terwyl dit in die aardkors vasgemessel is, het dit net die potensiaal om ’n inkomste op te lewer.

Baie mense besit hope potensiaal. Potensiaal om ’n geweldige positiewe verskil te maak. Potensiaal om iets goeds te doen. Potensiaal om die beste te wees.

Om potensiaal te ontgin neem gewoonlik baie energie en deur­settingsvermoë. Daarom bly dit gewoonlik in iemand se binneste vasgemessel. Dit is makliker so. Eenvoudiger. Minder werk.

Ons leef slegs een maal. Die geleentheid om jou potensiaal te ontgin is groter wanneer jy jonger is. Dit word moeiliker namate die jare verbyglip. Maar dit is steeds moontlik.

Eindelik bly die besluit joune.

Jy kan besluit om onopsigtelik as ’n ondergemiddelde persoon deur die lewe te gaan. Sonder veel inspanning. Sonder moeite. Sonder passie. Sonder om jou volle potensiaal te bereik.

Daar is soveel dinge waaroor ons eindelik spyt gaan wees. Moenie dat hierdie een van hulle wees nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article