Die kollegas het in die gang gestaan en skerts.

“Jy praat altyd van jou broer,” het een kollega opgemerk.

“Hoeveel broers het jy?”

Sy het ’n oomblik nagedink.

“Ek het twee op papier,” het sy geantwoord.

Een van die ander kollegas het fronsend genoem dat hy nie verstaan nie.

“Daar is iewers ’n papier wat sê ek en my broer is broer en suster, maar dit is eintlik ’n opsomming van die hele verhouding.

“Dit is slegs iets iewers op papier.”

Die meeste mense het waarskynlik familie wat slegs op papier familie is. Familie wat nie regtig betrokke is of omgee of energie in ’n verhouding sit nie.

Daar is iewers ’n papier wat sê hulle is familie, en vir hulle is dit genoeg.

Dit is anders met vriendskappe. ’n Vriendskap wat slegs op papier ’n vriendskap is, is glad nie ’n vriendskap nie.

Óf julle is vriende met ’n goeie of redelike goeie vriendskap. Óf julle is glad nie vriende nie.

Familie wat meer as verwantskap op papier is, is kosbaar. Dit is gewoonlik mense wat ’n mens self as familie sou kies.

Hulle voeg waarde tot jou lewe toe. Hulle is daar wanneer jy hulle nodig het. Hulle aanvaar jou vir wie jy is.

Vriende het nie so ’n papier nodig nie.

Diegene wat familie slegs op papier het, julle is nie die uitsondering nie. Die meeste mense het waarskynlik iewers familielede wat slegs familie op papier is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article