Eersdaags is dit weer nasionale stemdag.
By een van die vorige nasionale stemdae het ons by ons plaaslike stemlokaal opgedaag, identiteitsdokument in die hand. My man het ’n stembriefie gekry en na een van die stembussies gestap.
Nie my naam of identiteitsnommer was te vinde nie.
Daar is heen en weer geblaai. Daar is gekoukus. Daar is aandagtig na my identiteitsdokument gestaar.
Die administratiewe personeel by die stemlokaal het hul kop heen en weer geskud. Ek mag nie stem nie.
“Wait a moment,” het een van hierdie personeellede uitgeroep en my identiteitsdokument geneem. Hy het ’n aparte bladsy te voorskyn gebring en daarna geloer. Hy het breed geglimlag.
“You are on the list of deceased people.”
Hy het die bladsy na my toe uitgehou. Omdat ons van met ’n deelteken gespel word, het die deelteken in ’n onleesbare hiëroglief verander en my op hierdie lys laat beland.
Die vreemdeling langs my was op die plek kwaad.
“So dit is wat julle doen as julle dink ons gaan nie vir die regte party stem nie!” het sy uitgeroep.
Ek het die vrede probeer bewaar deur te verduidelik dat dit net die drukkersduiwel is wat die verwarring veroorsaak het.
“As ek oorlede is, mag ek nog steeds stem?” het ek gevra.
Daar is met ’n breë glimlag ’n stembriefie aan my oorhandig.
Mag almal hierdie stemdag op die korrekte lyste en korrekte plekke wees om ’n vredevolle verkiesing te verseker.




