’n Vriend vertel dat hulle as huisgesin ’n sekere tradisie het.
Elke jaar op ’n gesinslid se verjaardag bied daardie persoon ’n terugblik op sy of haar lewe. In retrospeksie meet hulle waar hulle hulself ’n jaar later bevind.
Weeg hulle ’n jaar later meer of minder? Het hulle meer of minder skuld? Is hulle meer of minder in hul beroep bekwaam?
Iemand het eendag gesê dat ’n plant op ’n gegewe dag ’n jaar later nie identies dieselfde gaan lyk as ’n jaar tevore nie. Die plant gaan meer of minder blare, takke of blomme hê.
In hierdie opsig lyk dit asof mense baie soos plante oorkom. Min van ons se omstandighede, emosionele en fisieke gesondheid, finansies en menseverhoudinge lyk identies soos ’n jaar gelede.
Sommige mense gebruik nie hul verjaardae om hierdie vergelyk te tref nie.
Hulle gebruik spesifieke datums wat vir hulle sekere herinneringe inhou.
Die dag toe hulle in ’n spesifieke huis of dorp ingetrek het. Die dag toe iemand na aan hulle oorlede is.
Sommige mense tref hierdie soort vergelyking nie jaarliks nie, maar elke paar jaar.
As ’n mens dit te gereeld tref, gaan jy voel jy vorder nie. As ’n mens dit nooit tref nie, gaan jy dalk nie bewus wees dat jy enigsins gevorder het nie.
Die meeste mense wil graag vorder. Dit maak nie saak hoe gering nie.
Daarom is hierdie spreekwoordelike bakens langs ons lewenspad nuttig.



