’n Kliënt vra onlangs vir my om ’n faktuur namens hom uit te reik en aan ’n derde party te stuur.

Ek kry die inligting en stuur die faktuur na die e-pos-adres waarvan ek voorsien is.

In terugvoering op hierdie e-pos word daar gevra dat hulle die bankbesonderhede op die faktuur deur middel van ’n bankbevestigingsbrief wil bevestig.

Op my beurt reageer ek op die e-pos deur ’n bank­bevestigingsbrief aan te heg en te stuur.

’n Halfuur later lui my foon.

Die persoon wat bel, stel haarself voor en verduidelik dat sy die faktuur met die bankbesonderhede op, asook die bankbevestigingsbrief gekry het.

Sy wil dieselfde bank­besonderhede telefonies bevestig.

Ek lees vir haar die bankrekeningnommer van my rekenaarskerm af. Sy bevestig dat sy tevrede is en groet vriendelik.

Ek dink ’n oomblik oor hierdie proses na.

’n Mens kan die afleiding maak dat daar iewers ’n fopfaktuur betaal is. Andersins tref hulle voorsorg dat hulle nie in so ’n slaggat trap nie.

Uiteindelik is dit waar ons in vandag se lewe trek.

Eerlike mense se tyd en energie word bestee om feite na te gaan en te bevestig – juis omdat daar soveel oneerlike mense is.

En, ná alles, voel dit vir my of die oneerlike mense steeds die mensdom met hul streke een voor is – ongeag maatreëls wat in plek is om dit te kniehalter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article