Een van ons vriende wat ’n bakkie besit, belowe om my te help om ’n paar goed by ons huis weg te ry. Soos belowe, daag hy stiptelik op.

Die hande wat ons gereël het om te help, daag egter nie op nie.

Ons twee spook en spartel om, onder meer, ’n hondehok en ’n groot papegaaihok op sy bakkie te kry.

Terwyl ons so sukkel, begin ek lag. Hy laat sak die hondehok aan die kant wat hy dra. Hy frons.

Ek glimlag.

Die paar motors wat verby ons huis gery het, het almal baie stadiger as gewoonlik gery.

Ek hoor hulle al: “Sies tog. Die twee mense skei en al wat sy kry, is die hondehok en voëlhok.”

Hy lag en skud sy kop.

“En ek help jou dit oplaai. Ek wonder of ek deel van hierdie egskeiding is.”

Ons probeer weer die hondehok tot op die bakkie kry.

Ek begin weer lag. Ons laat weer die hondehok sak.

“Ek wonder of ek darem die hond en die voël ook kry?”

Hy lag.

Hy is haastig. Ek vra om verskoning en hou op nonsens kwytraak.

Ons kry die hondehok op die bakkie getel.

Mense maak maklik afleidings.

Hierdie afleidings word vir die waarheid oorvertel.

Daarvandaan kry hierdie sogenaamde waarheid stertjies.

Maak eers seker voordat jy inspring en ’n afleiding vir die waarheid oorvertel.

Moenie net blindelings glo wat jou oë sien nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article