In sonnige Suid-Afrika is dit môre amptelik lentedag.
Sommige werkgewers hou ’n pretdag. Sommige skole vier ook hierdie dag.
Deur die jare sal mense getuig dat dit op laerskool een van die koudste dae van die jaar was. Jy het jou geldjie stiptelik betaal en jou somersrokkie vroegtydig gekies, maar hierdie betrokke dag se weer wou nooit werklik saamwerk nie.
Ek aanvaar dinge het nie veel verander nie. Dit is waarskynlik nog steeds een van die koudste dae van die jaar.
Met die koms van die lente ontwaak die natuur in alle vorme. Vinke is besig met hul nessies, so ook baie ander voëls.
Blomme kom te voorskyn. Die reuk van vars gesnyde gras begin in die lug hang.
In die Noord-Kaap is lente gewoonlik van korte duur.
Eersdaags is dit somer. Dan skiet temperature die hoogtes in en ander soorte uitdagings maak hul verskyning. Jaarliks word mense aangemoedig om iewers in hul tuin ’n bakkie water vir die wilde voëls uit te sit sodat hulle makliker hierdie hitte kan oorleef.
Met die intrede van die somer word Kersversierings reeds in die winkels uitgestal.
Die gemiddelde landsburger probeer nog begryp dat die winter vertrek het, terwyl almal terselfdertyd vakansieplanne beraam en Kersgeskenke uitsoek.
Die jaar jaag met ’n spoed verby.
Maar kom ons gee net ’n treetjie terug. Kom ons geniet eers hierdie spesiale dag wat as 1 September bekend staan.
Heerlike lentedag!


