Ek het iewers ’n bordjie gesien wat lees: “I have a kitchen because it came with the house.”
Daar is diegene wat regtig só oor ’n kombuis voel. Hoe minder tyd hulle daar deurbring, hoe beter. Vir hulle is ’n kombuis net ’n werksplek – kos maak, skottelgoed was, wasgoed was.
Hoe vinniger hulle kan klaarmaak en daar uitkom, hoe beter.
Tog is ’n kombuis soveel meer as dit. Vroeër jare se kombuise het hulle meer daartoe geleen, maar ’n kombuis is steeds ’n kuierplek. ’n Gesinsplek. ’n Ons-maak-herinneringe-plek. ’n Deel-van-emosies-plek. ’n Ons-bou-verhoudinge-plek.
Daar is ongelukkig goed wat in ’n kombuis gedoen moet word.
Die meeste mense nooi kuiermense saam kombuis toe wanneer hulle koffie gaan maak of ’n ete berei. Kuier-kuier kom die werk klaar.
Kinders verwyl baie keer tyd in ’n kombuis terwyl hulle iets vir Ma oor huiswerk vra.
’n Mens kan tog nie die stoof en wasbak saam met jou dra wanneer iemand jou vanuit ’n ander vertrek roep nie, so dit is makliker as die res van die gesin kombuis toe kom.
Mense deel hier stories van die dag se ondervindinge en gesels oor die res van die week se uitdagings en verwagtinge.
Hulle lag en huil en gesels saam – tussen die stoof, die wasbak en die wasmasjien.
’n Kombuis is soveel meer as net nog ’n vertrek in die huis. Dit is in baie gevalle waar die meeste herinneringe saamgevleg word.



