Ons klein hondjie het onlangs baie siek geword. Nadat hy redelik herstel het, het hy nou en dan ’n terugslag gehad. Een oggend beter, dieselfde middag letterlik hondsiek. Een dag beter, die volgende dag weer siek.

So gebeur dit dat hy een Saterdagoggend weer baie siek is.

Dit word net erger. Ons kontak ons veearts, maar dit is amper toemaaktyd en hulle is heeltemal volbespreek.

Ek besoek ons veearts die volgende week met dieselfde klein hondjie.

“En kyk hoe op en wakker is hy nou,” sê sy laggend.

“Ek sê altyd – jy moet bid asof ek nie werk nie en ek gaan werk asof jy nie bid nie.”

Ek dink ’n oomblik hieroor na.

Hoe ongelooflik kosbaar.

As daar meer sulke soort beleide in die lewe was, sou die wêreld ’n baie beter plek wees.

Sy spuit hom in en druk hom teen haar vas.

“My werk hier is gedoen,” skerts sy.

Ek betaal en dra die hondjie na ons voertuig toe. Voordat ek dit aanskakel, talm ek eers ’n oomblik.

Ek wonder op hoeveel ander beroepe ’n mens hierdie van toepassing kan maak.

Seker die meeste?

As ek bid asof jy nie werk nie en jy werk asof ek nie bid nie, gaan die resultaat baie positief kan wees.

En so wen ons saam-saam – al biddende en werkende.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article