Ek staan ingedagte met ’n stuk materiaal in my hand in die materiaalwinkel.

“Hierdie voel baie lig, dit voel nie soos 5 m nie,” sê ’n vreemdeling langs my.

Ek kyk op en sien die stoffeermateriaal in sy hand.

Niemand reageer nie.

“Wil julle dit nie weer meet voordat ek dit betaal nie?”

Niemand reageer nie.

“As ek by die huis kom en dit is nie 5 m nie, gaan ek terugry hiernatoe,” sê die man ferm.

Een van die werknemers gee ’n halwe tree vorentoe.

“Dit is reg so, meneer,” sê hy. “Maar as daar 20 cm te veel is, moet u ook asseblief terugry.

“ ’n Mens moet nie net terugkom wanneer daar te min is nie, maar ook wanneer daar te veel is.”

Die vreemdeling draai om en stap in stilte na die betaalpunt.

Mense kla maklik.

Daar word maklik vertel hoe die ete beter kon wees of hoe sekere dinge nie reg gedoen is nie.

Daar word maklik gesê wat gekort het of hoe sleg iets was.

Beledigings en geskinder is eenvoudig.

Maklik.

Dit verg feitlik geen inspanning nie.

Dit rol van mense se tong af asof dit al is wat hulle het om te sê.

Wat van die goeie nuus?

Die komplimente?

Dit wat reg gedoen is?

Daar is tog baie sulke dinge.

Dit is maklik om vinger te wys en te kla.

Doen ’n slag moeite met die uitdeel van ’n kompliment.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article