’n Tyd terug pak ek kaste reg. Dit is asof artikels self op ’n onverklaarbare wyse hul weg na ’n kas toe kry.

Pak jy reg en gooi weg en gee weg, is dieselfde kas binnekort weer so volgestop dat jy wonder waar alles vandaan kom.

Want jy het dit wrintiewaar nie self daar ingesit nie . . .

In die kas wat ek regpak, is daar onder meer ’n kniekombersie wat iemand al dekades gelede vir my gegee het wat ek nooit gebruik het nie.

Die kinders gaan dit ook nie gebruik nie. Dalk kan iemand anders dit gebruik.

Ek kontak ’n moederfiguur van my en stuur vir haar die kniekombersie met ’n botteltjie vye.

Sy skakel my opgewonde en vertel my van die unieke patroon waarop hierdie kniekombersie gehekel is.

Sy is naarstigtelik op soek na die patroon en geen van haar vriendinne kan haar daarmee help nie.

Ongelukkig het ek ook nie antwoorde op haar vrae gehad nie.

’n Paar weke later sien ek dat haar dogter ’n foto van die kniekombersie op die sosiale media plaas en vra of iemand weet hoe ’n mens dit hekel.

Verlede week kry ek baie opgewonde ’n boodskap vanaf my moederfiguur wat vertel dat sy die hekelpatroon gekry het en dat sy ’n kniekombersie begin hekel het.

“Dis wonderlike nuus,” sê ek dankbaar.

Sy glimlag.

“Alles te danke aan sosiale media en iemand in Denemarke.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article