In Engels is die woord baie beskrywend: “stir”.
In Afrikaans sou ons seker sê “Iemand stook kwaad”.
Of jy “stir” en of jy besig is om kwaad te stook, albei is werkwoorde.
Iets wat gedoen moet word. Iets wat tyd in beslag neem. Tyd wat eerder op iets spandeer kon word wat waarde tot ander mense se lewe voeg.
’n Pensioentrekker vertel my van dieselfde irritasie wat jare gelede by hul werksplek kop uitgesteek het. Die bestuurder van hul afdeling het ’n groot lepel gaan koop en ’n ketting daaraan vasgesweis. Nadat hy die derde keer hierdie lepel om iemand se nek gehang het, is hierdie kwaadstokery in die kiem gesmoor. Terwyl hy my vertel het, het ek begin wonder waar ek ’n baie groot lepel kan gaan koop en wie vir my ’n ketting daaraan sal kan vassit.
Terselfdertyd het ek besef dat ek eintlik net die groot lepel nodig het, omdat dit in elk geval net om een persoon se nek gehang gaan word. Daarom kan ek sommer net die lepel gee en sê: “Hierdie sal jou in die toekoms help om te ‘stir’. ”
Het mense nie genoeg werk nie?
Of waarom probeer hulle kwaad stook? Die persone wat hulle probeer beïnvloed, is nie so onnosel soos wat hulle graag wil hê nie.
Hou asseblief aan om te “stir”.
Een van die dae kry jy dalk ‘n groot lepel op jou tafel.
Of om jou nek.



