“Onbekend maak onbemind,” word daar gesê.
Dit is vreemd hoe mense iemand wat hulle glad nie ken nie kan beoordeel en veroordeel.
In sommige gevalle het hulle nog nooit die mens ontmoet nie of skaars ’n pad saam met daardie een gestap.
Soms is dit omdat hulle ’n idee van iemand het deur wat ander mense sê.
Soms is dit net ’n idee wat hulle uit hul verwysingsraamwerk kry.
Ons regstelsel is bekend daarvoor dat iemand eers skuldig bewys moet word voordat die persoon as skuldig bestempel word. Mense aanvaar egter dat iemand skuldig is, selfs al het hulle nie al die feite nie.
So word daar ook aanvaar dat mense nie hul werk kan doen nie of nie eerlik kan wees nie.
Dit is waarskynlik weens individue se persoonlike ondervinding van mense, en daarom word elke vreemdeling oor dieselfde kam geskeer.
Om deurlopend die slegste van mense te verwag moet ’n baie uitdagende pad wees om te stap.
Die meeste mense kry waarna hulle in mense soek – hetsy die goeie of die slegte.
Uiteindelik bestaan ons uit pakkies van die goeie, sowel as die slegte.
Hoewel daar mense is wat teleurstel, wil ek graag bly glo dat daar meer goed as kwaad in die meeste mense steek.
Onbekend mag onbemind maak, maar die omgekeerde is ook waar: Bekend maak nie noodwendig bemind nie.
Die geheim is dalk om iemand net eers te leer ken voordat jy oordeel vel.



