Mense reageer nie almal dieselfde op foute wat gemaak word nie.

Vir sommige mense is ’n fout, klein of groot, altyd ’n geweldige krisis.

Mense maak foute, veral by die werk. Nie noodwendig uit nalatigheid of doelbewus nie, maar foute word wel gemaak.

Ek sou sê die grootte van ’n fout word gemeet aan die hoeveelheid geld, tyd en arbeid wat bestee moet word om die fout reg te stel.

Mense wat foute as geweldige krisisse beskou, moet dalk ’n oomblik tot stilstand kom en hierdie drie aspekte oorweeg voordat hulle beskuldigings rondslinger en algehele paniek veroorsaak.

As een van die bogenoemde aspekte, byvoorbeeld arbeid, in groot hoeveelhede toegepas moet word om ’n fout reg te stel, is dit waarskynlik ’n groot fout.

As al drie aspekte in groot hoeveelhede toegepas moet word, kan dit as ’n baie groot fout bestempel word.

As dit feitlik geen tyd, geld of arbeid neem om ’n fout reg te stel nie, kan die fout sekerlik as baie klein beskou word.

Mense laat maklik ’n soeklig op ander mense se foute skyn.

Waarskynlik om die aandag van hul eie foute af te lei.

Hoe groter bohaai hulle kan opskop oor iemand anders se foute, hoe minder is die kans dat hul eie foute onder die vergrootglas beland.

Wanneer daar weer foute gemaak word, vra jouself af: Hoeveel tyd, geld en arbeid gaan dit neem om hierdie foute reg te stel?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article