Goed. Beter. Beste.

Daar bestaan nie kouer as yskoud nie.

Daar bestaan nie armer as brandarm nie.

Daar bestaan beslis nie beter as beste nie.

Jou beste is jou beste; beter as dit kan jy nie doen nie.

As jy in jou hart weet dat dit jou beste was, wat kan jy meer doen?

As jy jouself in die oë kan kyk en kan sê dat hierdie jou beste was, wat anders kon jy gedoen het?

Soms is dit nodig om weg te stap uit ’n verhouding.

’n Liefdesverhouding.

’n Werksverhouding.

’n Vriendskapsverhouding.

Nie omdat dit noodwendig sleg is nie. Dalk bloot omdat dit vir jou voel of jou beste nie goed genoeg is nie.

As ’n mens werk vir erkenning is die kans baie goed dat jy teleurgesteld gaan staan.

Iewers gaan iemand nie tevrede wees nie. Iewers gaan iemand meen dat jy nog beter moes doen. Hoër moes spring. Verder moes hardloop. Harder moes werk.

Party mense gaan deur die lewe wetende dat hulle nie hul beste lewer nie. Hulle is tevrede daarmee. Vreemd genoeg aanvaar die mense om hulle dit.

C.J. Langenhoven het gesê: “As jy iets gedoen wil hê, gee dit vir ’n besige man want die ander het nie tyd nie.”

Hoe meer jy doen, hoe meer word daar van jou verwag. Let wel, dit is nie altyd ’n slegte ding nie.

Maar uiteindelik kan jy nie beter as jou beste gee nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article