Sy skuif gemaklik op die stoel.

“Hierdie is nie ’n koffie-afspraak nie. Ek verwag ’n faktuur,” sê sy saaklik.

Ons is goeie vriendinne en hoewel sy nie my kliënt is nie, gesels ons af en toe nie-amptelik syfers. Vandag wil sy amptelik syfers gesels.

Na afloop van die afspraak stuur ek ’n faktuur, waarvan sy die bedrag die volgende dag betaal.

Daar is ’n menigte kleinsakeondernemings wat stadigaan kop oplig ná die afgelope paar jaar se ekonomiese uitdagings.

Vir baie van hulle het die herstel te lank geneem, en hulle moes tou opgooi. Die res probeer nog vasbyt.

Een van die redes waarom kleinsakeondernemings uiteindelik voortbestaan, is waarskynlik omdat vriende soos klante en kliënte hanteer wil word. Daar word nie gunste en gawes verwag nie. Dit word ook nie vrylik uitgedeel nie.

Wanneer daar gekners word om die sente om te draai om ’n besigheid se voortbestaan te verseker, word alle ondersteuning waardeer. Veral vriende s’n.

As jy nie self ’n vriend of vriendin se onderneming kan ondersteun nie, kan jy moontlik iemand na hulle verwys. Dit hoef nie ’n groot verwysing te wees nie. Dit is die klein verwysings wat die wiel aan die draai hou en die pot aan die kook.

Soms verwag mense dat jy hulle met pryse sal tegemoet kom omdat hulle goeie vriende is. Of omdat hulle iemand ken wat iemand ken, wat jy ken.

Dankie aan almal, veral vriende, wat klein ondernemings aan die gang help hou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article