Sy het by haar kollega se kantoor ingestap en inligting gevra om haar werk te voltooi.
Hy het kortaf geantwoord en haar aangegluur.
“As ek jou dag omgekrap het, moet jy asseblief vir my sê – dat ek dit kan regstel,” het sy gesê.
“As ek nie jou dag omgekrap het nie, regverdig dit nie hierdie kortaf optrede van jou nie.”
Hy het om verskoning gevra en die inligting gegee waarvoor sy gevra het.
Toe sy ’n ruk later by haar kantoor instap, het daar twee kolwyntjies op haar lessenaar gewag. Sy het die bordjie eetgoed geneem en na haar kollega se kantoor gestap.
“Ek aanvaar hierdie is van jou af?” het sy gevra.
Hy het sy kop geknik.
Sy het verduidelik dat dit nie nodig was nie, maar dat sy dit waardeer.
Toe sy omdraai om by sy kantoordeur uit te stap, het hy weer iets kortaf in haar rigting geslinger.
Sy het die kolwyntjies op sy lessenaar neergesit.
“As jou optrede nie verander nie, kan jy hierdie hou.”
Sy was omgekrap.
Hy ook.
Van sy kant af het hy beduie dat hul werksverhouding skade gaan ly as sy die eetgoed vir hom teruggee.
Sy het by sy kantoor uitgestap en die bordjie op die ontvangstoonbank neergesit.
“Hier is vir julle twee dames eetgoed.”
’n Rukkie later het die ontvangsdame by haar kantoor ingeloer.
“Marie is omgekrap omdat jy eetgoed gaan koop het en vir almal gee, behalwe vir haar.”



