’n Bekende Suid-Afrikaanse gholfspeler het altyd gesê: “Gholf hou my nederig.”

Kyk jy na die afgelope tyd se krieket- en rugby-uitslae, kan dit waarskynlik van die meeste sportsoorte gesê word.

Dieselfde kan van die syferbedryf gesê word.

Sodra jy dink jy raak die syfers baas – en inderwaarheid nogal trots raak op jou eie vordering – gebeur daar iets wat jou voete weer plat op moederaarde vasmessel.

Daar is soveel fasette in die syferbedryf.

Jy sal waarskynlik nooit die see van syfers deurgeswem kry nie. Selfs al bly jy 60 jaar lank in dieselfde bedryf.

Soms is dit nodig om nederig gehou te word.

Ander kere voel dit asof jy darem net ’n klein bietjie krediet verdien wanneer jy regtig goed presteer het.

Maar klop jy jouself te gereeld op die skouer, kan ek jou belowe dat ’n syfer iewers gaan bewys dat jy nog ’n lang pad het om af te lê en heelwat het om te leer.

Tussendeur moet ons leer om balans te handhaaf.

Konsentreer jy te veel op wat jy nog moet leer, gaan jy dalk moed opgee.

Konsentreer jy te veel op hoeveel jy weet, gaan jy dalk met jou neus teen die sypaadjie eindig.

Iewers moet ons die middeweg vind.

Soveel wat ons geleer het, soveel wat ons nog moet leer.

Mag mense in die syferbedryf moed hou.

Mag julle hoë hoogtes beleef, ongeag daarvan dat syfers ’n mens nederig hou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article