Ek hou by die verkeerslig stil. Langs my hou ’n onbekende voertuig stil.

Ons brein sê vir ons die verkeerslig is nie groen nie, daarom mag ons nie ry nie.

So ons wag.

’n Derde voertuig hou aan ons regterkant stil. Die voertuigbestuurder beduie dat ons mag ry.

Ons kyk vlugtig na mekaar en dan na die verkeerslig.

Dit is inderdaad nie groen nie. Maar dit is ook nie rooi nie.

Ons bevind ons in beurtkrag.

Beurtkrag.

Is dit jou beurt om krag te spaar?

Of is dit jou beurt om krag te verbruik?

Of is dit jou beurt om krag te spaar terwyl dit iemand anders se beurt is om dit te verbruik?

Deesdae voel dit of dit meer gereeld jou beurt is om krag te spaar as om krag te verbruik.

Soms wonder ’n mens hoeveel krag word werklik gespaar en hoeveel word werklik verbruik.

Die redes waarom ons in hierdie situasie is, is blykbaar legio.

Net wanneer ’n nuwe plan aanmekaargeflans word, breek daar iets waarop geen mens blykbaar voorbereid was nie.

“Plan your schedule accordingly,” is nie so maklik uitvoerbaar soos wat Eskom dink nie. Veral nie as die fases van beurtkrag deurlopend verander nie.

Tussen al die chaos en frustrasie deur het ons steeds hoop. En met hoop kan ’n mens ver kom.

So, met lantern in die hand en hoop in die hart beur ons die (moontlik donker) toekoms in.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article