1 September. Nog ’n Lentedag het aangebreek. Uiteindelik.

Uit die geskiedenis weet ons dat Lentedag een van die koudste dae van die jaar is.

Hierdie jaar blyk dit anders te wees, aldus die weervoorspelling.

Soveel mense daar is, soveel menings is daar oor die verskillende seisoene. Sommige verkies die winter. Ander die somer. Die res verkies die tussenin-weer. Wanneer dit nie te koud is nie, ook nie te warm nie.

Die lente en herfs in die Noord-Kaap is binne ’n oogwink verby. Ons bewonder ’n nuwe blommetjie of herfsblaartjie, dan lê albei binnekort op die grond. Die een weens hitte en die ander weens koue.

Die klimaat in die Noord-Kaap is waarskynlik die ongenaak­baarste van al dié in al nege provinsies. Hier moet jy sterk staan. Mens en dier wat die winter oorleef het, vergaan dalk in die somer.

Reën is gewoonlik skaars. Elke druppel water word deur ons dankbare aarde opgeslurp. Oornag kan ons die verskil sien.

Komberse word nou langs die bed – nie meer bo-op – gebêre. Ons weet van beter as om die komberse te diep weg te pak.

Ekself is ’n somer-mens. Wanneer ek ’n week lank met die winter worstel, is dit genoeg. Ek sal baie maklik in die trope kan oorleef. Wat klimaat aanbetref. Saam met die skrywer sê ek dus: “Dis heerlike lente, die winter is verby.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article