“Sy was so siek dat sy amper dood is,” sê iemand. “Gelukkig het ’n vriendin vir haar ’n nier geskenk.”
Ek wonder ’n oomblik hieroor en oor die mense in my lewe.
Ek het ongelooflike vriendinne.
Pragtige mense, binne en buite. Sterk. Onafhanklik. Terselfdertyd sag en broos.
Ek twyfel egter of enige een van hulle bereid sal wees om vir my ’n nier te skenk.
Ons dink gewoonlik aan die mense wat in ons lewe teenwoordig is om ’n idee van ons lewe te kry.
Mense wat ons moed inpraat en troos in moeilike tye.
Mense wat in ons vreugdes deel in goeie tye.
Ook diegene wat die spreekwoordelike klippie in ons skoen sit.
Mense wat ons glad nie ondersteun nie.
Almal het hul plek waar hulle inpas en ’n rol wat hulle vervul.
So pas ons ook iewers in hul lewe in.
Ons dink oor die algemeen min aan mense wat nie in ons lewe teenwoordig is nie.
In flieks is daar gewoonlik iemand wat help om die onmoontlike reg te kry.
Ek wonder gewoonlik ook hieroor.
Daar is letterlik niemand in my lewe wie se hulp ek sal kan inroep wanneer ek, hipoteties gesproke, onverwags van ’n lyk moet ontslae raak nie.
Dankie tog daarvoor.
Dalk is dit tyd dat ons kyk na diegene wat in ons lewe afwesig is om ook ’n idee van ons lewe te kry.


