“Vriendin, ek vra vir almal wat ek ken: Ons kry eersdaags ’n klomp mense vir die plaaslike sporttoernooi. Het julle dalk vir ons ’n bed om te leen? Ons sal dit self kom haal en weer aflewer.”

Ek glimlag.

Sy frons.

Ek verduidelik dat hierdie soort vrae nie iets is wat algemeen in ander provinsies voorkom nie.

As jy nie oorspronklik in die Noord-Kaap grootgeword het nie, bly hierdie vrae vir jou baie uniek.

“Jy verstaan dat mense nie so iets in anders provinsies vra nie. Veral nie vir almal wat hulle ken nie,” sê ek laggend.

Sy trek haar skouers op.

“So jy sal my laat weet of julle ’n bed het, of sal jy namens my rondvra?”

Ons het ongelukkig nie ’n bed gehad wat hulle kon leen nie, maar hulle het wel iewers ’n bed te lene gekry.

Die sporttoernooi was ’n reuse-sukses en die gaste kon nie uitgepraat raak oor hoe goed dit aangebied is nie.

Ek wonder of die boodskap van die geleende bed ooit die gaste bereik het.

Oor die algemeen het die mense in die Noord-Kaap nog tyd vir mekaar en ander mense se uitdagings. Daar word geensins gehuiwer om iemand in nood te help nie.

Hier is nie ’n oorvloed werksgeleenthede of ’n gematigde klimaat nie. Hier is die soort uitdagings waarvan ander provinsies nie eens bewus is nie.

Maar hier is mens-mense wat omgee.

En hulle is oneindig kosbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article