Alhoewel my rubrieke gereeld voor dit geplaas is, het dit amptelik op 10 September 2014 as “Potpourri” begin bekend staan.
Ek het hierdie naam gekies omdat die menslike spesie uit baie fasette bestaan.
So ook skryfwerk. Iets met ’n groot verskeidenheid.
Sommige weke worstel ek met wat die inhoud van my rubriek gaan wees.
Ek raak so besig met die syfers dat dit soms voel asof my brein nie spasie vir woorde het nie.
Wat ek wel weet is dat daar oor die algemeen mense is wat my rubrieke inspireer.
Iewers sal iemand iets sê of doen wat my laat besef dat dit dalk die inhoud van ’n rubriek kan wees.
Ek maak vinnig ’n nota en hou dit vir iewers vorentoe.
Maretha Maartens het lank gelede dit bevestig toe ek met haar gesels het: “Uiteindelik begin skryfwerk met net een sin,” het sy gesê.
Daar sal lesers wees wat vra: “Waarom skryf jy oor nege jaar se bestaan en wag nie vir tien jaar nie?”
Omdat ek, soos baie ander mense, gedurende grendeltyd besef het hoe maklik dinge kan verander. Omdat die wêreld daarna in baie opsigte anders lyk. Omdat ek bewus is daarvan dat dinge oor ’n jaar van nou af dalk ook anders gaan lyk.
Ek het wel vandag. Daarom sê ek dankie aan elke leser en al die ondersteuning gedurende die afgelope nege jaar.
Wie weet. Dalk is daar volgende jaar iets anders in hierdie betrokke spasie.



