Sy skryf ’n paar woorde op ’n vierkantige, geel plakpapiertjie en plak dit bo-op die dagboek.

Uit die hoek van haar oog sien sy my raak.

“Dit is vir môre se bank toe gaan,” verduidelik sy.

Ek het reeds my handsak oor my skouer en die motorsleutels in my hand.

Ek stap nader en lees haar nota.

“Onthou om die kontant in die kluis te bank. Dankie vir jou moeite.”

Sy glimlag toe sy die ligte frons op my voorkop gewaar.

“Gaan jy nie altyd self bank toe nie?” vra ek. “Of het jy môre verlof?”

Werknemers voel soms hulle kry nie altyd die erkenning wat hulle verdien nie. Soms werk hulle met die uitsluitlike doel om iewers ’n klop op die skouer te kry. ’n Dankie. ’n Ek-is-trots-op-jou. ’n Ek-is-dankbaar-jy-werk-hier.

Geen werkgewer wil op ’n gereelde grondslag dankie sê vir werk waarvoor ’n salaris betaal word nie.

Baie werkgewers voel ’n salaris is genoeg, en nog enige heuning om die mond is onnodig en tydrowend.

Min werknemers verwag dat hulle gereeld op die skouer geklop moet word. Maar iewers verwag hulle darem ’n blyk van waardering.

“Hier word so min dankie gesê dat ek my eie nota skryf om vir myself dankie te sê,” sê sy laggend.

Hopelik is dit nie vir jou nodig om jou eie dankie op ’n plakpapiertjie te skryf nie.

Indien wel, skryf dit met oorgawe en met trots: “Dankie vir jou moeite.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article