Die winkel is besig. My oog val op ’n bejaarde man wat ’n klein, swart boekie vashou. Ooglopend baie gebruik. Waarskynlik oor die verloop van ’n paar dekades.

Ek kan myself voorstel dat sy vrou altyd haar lysies in hierdie boekie gemaak het.

Nie heen-en-weer gerits soos ons dit vandag doen nie. Noukeurig beplan. Winkel toe gegaan wanneer dit werklik nodig geword het.

Dalk het hierdie swart boekie ’n prominente plek in die kombuis. Met ’n pen byderhand.

Dalk is sy vrou intussen oorlede en sit hy hierdie gewoonte voort.

Dalk is sy siek en word hy ingespan om winkel toe te kom.

Ek neem ’n blikkie konfyt langs hom van die rak af en loer vinnig na die inhoud van die boekie wat hy oopgeblaai in sy een hand vashou. Bo-aan die bladsy is verlede Maandag se datum. Die res is onder mekaar geskribbel, maar ek talm nie om daarna te kyk nie.

Ek beur tussendeur die mense en stap met my mandjie na die betaalpunt toe.

Dan draai ek om, maar die bejaarde man met sy klein swart boekie het uit my oogveld verdwyn.

Ek wou hom vra of ek ’n oomblik deur hierdie besonderse boekie mag blaai. Mag kyk wat dekades gelede beskikbaar en benodig was. Kyk hoe dit deur die tye verander het. Kyk hoe lank hierdie boekie al gebruik word.

Dalk loop ek hom weer raak.

Hopelik het ek dan moed om hom te vra.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article