“Ek is flippen lief vir Ouma,” het ’n vriendin se kleindogter vir haar gesê. “Is ‘flippen’ ’n vloekwoord, Ouma?”
’n Vriend deel ook laggend sy kleinkind se sêgoed.
“I don’t like you – I love you.”
Kleinkinders en grootouers doen mekaar goed. Die twee geslagte vind by mekaar aanklank.
’n Mens hoor dikwels stories wat die middelste geslag ontsteld vertel. Stories van hul ouers wat hulle nie iets spesifieks wou toelaat nie, maar nou word die kleinkinders met groot liefde en trots dieselfde ding toegelaat.
Kleinkinders kom met baie dinge weg. Nie met alles nie, maar met baie meer as wat die grootouers wil voorgee.
Terselfdertyd kom die grootouers met meer by die kleinkinders weg.
Hulle word makliker om die pinkie gedraai. Makliker verdra. Makliker vergewe.
Dalk omdat die ouer geslag die voorreg het om op dinge terug te kyk. Die middelste geslag – die ouers – stry nog die stryd om kinders suksesvol op te voed.
Soms gaan dinge tussen hierdie twee geslagte te ver. Die situasie word misbruik.
Kleinkinders besef dat hulle die grootouers kan manipuleer omdat baie grootouers hul kleinkinders min sien.
Grootouers, daarteenoor, weet dat die kleinkinders saam met die ouers huis toe gaan, waar bederf dan die ouers se probleem raak.
Hierdie balans moet met liefde en respek gehandhaaf word.
Dan is daar min dinge so kosbaar soos die band tussen grootouer en kleinkind.

