Oor die algemeen sien die menslike spesie nie na homself om nie. Ons wil graag balans in ons lewe handhaaf, maar min mense slaag daarin.
Ons eet te veel of te min. Slaap te veel of te min. Werk te veel of te min. Oefen te veel of te min. Bekommer onsself te veel of te min.
“Wanneer begin ons na onsself kyk?” vra iemand.
Waarskynlik op die vooraand van ’n spreekwoordelike doodsvonnis.
Wanneer medici beslis dat ’n lewe aan ’n draadjie hang en dat beter gewoontes daadwerklik aangeleer moet word.
Voordat hierdie skokkende nuus nie oorgedra word nie, moet ons liggaam net aanpas en byhou.
Ons brein moet na die beste van sy vermoë funksioneer – ongeag dit wat hy gevoer word en hoe hy behandel word.
Ons is ’n netelige spesie.
Hoe ons steeds voortbestaan, is ’n vraag wat uiteenlopende reaksies ontlok.
Die vanselfsprekendste riglyn is matigheid. Wanneer ons matigheid voor oë hou, val baie dinge in plek – juis omdat matigheid meer balans bewerkstellig.
Maar dit is juis matigheid wat ons menslike spesie so maklik ontduik.
Dit is baie maklik om te oorwerk en te ooreet.
Ons kry dit besonder goed reg.
Nie net ly ons liggaam onder die afwesigheid van balans nie, maar ook menseverhoudinge.
Ons moet dalk vroeër balans probeer bewerkstellig en nie wag tot die vooraand van ’n spreekwoordelike doodsvonnis nie.



