Daniel Alberts op Vrydag 4 Oktober in die landdroshof in Kimberley.

Foto: Charné Kemp

Daniel Alberts (39), wat aangekla word dat hy twee polisielede van die blitspatrollie meer as ’n jaar gelede in Kimberley doodgeskiet het tydens sy wilde vlugtog nadat hy glo ’n voertuig in Bloemfontein gesteel het, spook steeds met die owerhede om bank toe te gaan.

Hoewel Alberts ’n regsverteenwoordiger van Regshulp Suid-Afrika (Regshulp SA) het, dring hy op ’n private regsverteenwoordiger aan.

Daarvoor het hy geld nodig, wat hy glo het, maar hy kan nie die bank bereik nie omdat hy in aanhouding is.

In sy soveelste pleidooi het hy Vrydag 4 Oktober ’n bevel van die landdros versoek dat persone van die polisie of die departement van korrektiewe dienste hom na die bank vergesel sodat hy geld kan trek om ’n regsverteenwoordiger te betaal.

‘Beskik nie oor magte’
Voorheen het landdroste aan hom gesê dat hulle nie oor die magte beskik om ’n bevel uit te reik nie. Volgens Alberts is dit moontlik, want ’n medegevangene is glo op ’n keer deur die polisie na die bank geneem.

Alberts is reeds vir sielkundige waarneming opgeneem, waarvan die verslag onbekend is.

Voorheen het Neo Batsikane, staatsaanklaer, gesê hulle is besig om verskillende strafsake teen Alberts saam te voeg.

Alberts staar twee aanklagte van moord, drie van roof met verswarende omstandighede, een van motordiefstal en een van diefstal in die gesig. Sy huisadres is voorheen as in Pretoria aangegee.

Alberts is ná die voorval op 22 Augustus 2023 in hegtenis geneem. Hy het na bewering vir konst. Okaetse Mandindi en sers. Kedimetse Masilo doodgeskiet. Masilo en Mandindi het onderskeidelik 16 jaar en 11 jaar in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gedien.

Die lede was glo besig om die bewegings van ’n gesteelde, gehuurde voertuig na te gaan wat op pad was na Kimberley. Nadat hulle die voertuig in die stad gesien het, het hulle dit agtervolg. Die voertuig het na Transnet se spoorwegwerf weggejaag, waar die verdagte die voertuig in ’n sloot laat beland het en te voet gevlug het. Die lede het hom agternagesit, waarna hulle doodgeskiet is. Alberts is later die dag in Riverton aangekeer.

Die saak is tot 22 Oktober uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article