Die polisie in die Noord-Kaap sê hulle het veiligheidsmaatreëls in plek vir die beplande staking van vragmotorbestuurders wat Sondag (30/04) sou begin.
Tientalle vragmotors was Sondagmiddag buite Kimberley by die Force Petroleum Dieseldepot parkeer, en uitgebrande buitebande het buite die ingang gelê. Die vragmotors is by die depot parkeer, en ook op die ingangspad en in die veld om die depot.
Lede van die All Truck Drivers Forum (ATDF) en Allied South Africa (ASA) is by die protes-aksie betrokke. Hulle eis onder meer dat arbeidsmakelaars nie meer in die bedryf betrokke is nie, en dat kameras in kajuite verwyder word.
Nog eise is ’n maandelikse salaris van R25 000, en dat geen buitelandse bestuurders in diens geneem word nie. Vragmotorbestuurders verdien tans ’n gemiddelde salaris van R17 000.
Brig. Mashay Gamieldien, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, sê hulle het maatreëls in plek gestel.
“Ons is gereed om te reageer en misdadigheid stop te sit. Ons maan die publiek om nie boodskappe te versprei om teen die staking op te tree nie. Ons sal teen enige onwettige optrede stappe doen. Die polisie handhaaf ’n hoë sigbaarheid op hoofpaaie.”
Luidens ’n waarskuwing van die Padvragvereniging dra die N2 en N3-roetes die grootste risiko van ontwrigting.
In Witrand en Piet Retief in Mpumalanga is vragmotors met klippe bestook. Dit het ook in Bayhead, Isipingo, in KwaZulu-Natal gebeur, asook by die Durban-hawe en South Beach in dié stad. Daar word ook op trokke geskiet.
Mense word aangeraai om bogenoemde gebiede te vermy, asook die volgende plekke: die N3 by Mooirivier waar klippe op die padoppervlak gestrooi is; Edwin Swales, die brug by die M7- en N2-roete; die SAB se Prospecton-depot en die brouery; Jeffelsweg, Isipingo en Prospecton, waar die pad deur die ADTF blokkeer is. Die polisie is op die toneel.
In die ander provinsies is grootskaalse ontwrigting nog nie aangemeld nie.





