Dagga met ’n geraamde straatwaarde van R1,1 miljoen is Saterdagoggend (03/06) by twee mans gevind wat by ’n bekende duimgooiplek in Kakamas gewag het.
Sers. Kallie Kalamore en konst. KG Mkhafu van die polisie in Kakamas het reageer op inligting van die verdagte persone met sakke wat by die plek gewag het.
Volgens kapt. Nelis Prins, polisiewoordvoerder, is die sakke van die twee mans deursoek en verpakte dagga is gevind.
Die twee mans, onderskeidelik 25 en 35 jaar oud, is op aanklag van handel in dagga in hegtenis geneem, en sal binnekort in die Kakamas-hof verskyn.
- In ’n onverwante voorval is nog twee mans, onderskeidelik 39 en 43 jaar oud, in die Upington-omgewing in hegtenis geneem vir die besit van Mandrax-tablette en khat met ’n geraamde waarde van R50 100.
Sers. Omphile Masegela, polisiewoordvoerder, sê die mans is om 02:00 deur lede van die Upington-grenspolisie, K9-eenheid en die ZFM-hoofwegpatrollie gestop weens roekelose bestuur en omdat hulle ’n stopteken ignoreer het.
Met die deursoek van die voertuig het hulle op die dwelms afgekom.
Altwee mans sal binnekort in die hof verskyn.
- Intussen het Operasie Shanela, wat van Maandag 29 Mei tot Sondag 4 Junie geduur het, talle suksesse opgelewer.
Sers. Timothy Sam, provinsiale polisiewoordvoerder, sê verskeie aksies is begin, insluitende voertuigbeheerpunte en voet- en voertuigpatrollies.
’n Totaal van 1 388 nakomingsinspeksies is by handelaars van tweedehandseware uitgevoer, en ook by drankwinkels en drankafsetpunte.
Verskeie ander suksesse is ook behaal, onder meer die inhegtenisneming van 769 verdagtes vir moord, poging tot moord, verkragting, aanranding, diefstal en handel in dwelms. ’n Totaal van 39 onwettige en ongelisensieerde vuurwapens is ook gevind.
- Verlede week, te danke aan die suksesvolle ondersoekwerk van speursers. Shahieda Williams van Upington, het die 42-jarige Warren Izaaks van die dorp agt jaar tronkstraf vir huisinbraak en diefstal ontvang.
Tydens die hofverrigtinge is aangehoor dat Izaaks in ’n huis in Marzuka-weg in Keidebees, Upington, ingebreek het terwyl die eienaars geslaap het. Hy het kruideniersware en ander items met ’n waarde van ongeveer R11 000 gesteel. Die polisie kon deur vingerafdrukke Izaaks ook met die inbraak in ’n motorvoertuig verbind.




