’n Vierde vroeëkinderontwikkelingsentrum (VKO) van sy soort het onlangs sy deure op ’n plaas in die Hopetown-distrik oopgemaak.
Die Salt and Light-sentrum is op 29 Januarie geopen ná GWK, Standard Bank en die De Lande-boerdery kragte saamgesnoer het.
Ongeveer 20 twee- tot vyfjariges sal hier die geleentheid kry om te leer en te ontwikkel deur middel van ’n reeks gestruktureerde lesplanne wat ook buitelug-aktiwiteite soos perdeterapie en die vestiging en versorging van groentetuine insluit, sowel as kuns- en kultuurprojekte.
Louise Ferreira van De Lande, wat die projek namens die familie gestuur het, sê in noue samewerking met haar dogters, Leona Vermeulen en Frieda van der Post, het hulle dié droom ’n werklikheid gemaak.
Dit is die vierde VKO-sentrum van sy soort waarby GWK betrokke is en word deur GWK se nie-winsgewende maatskappy, GWK H2O, hanteer.
Die eerste sentrum is in Februarie 2020 by die Genade Boerdery buite Douglas gevestig met die doel om vanaf grondslagfase ’n verskil in die opvoeding van kinders op plase in die Noord-Kaap en Suid-Afrika te maak.
Die tweede sentrum is op 22 Februarie 2022 in samewerking met Wildeklawer geopen en is sowat 15 km buite Barkly-Wes geleë.
Die derde sentrum is in samewerking met De Meul Boerdery in die Prieska-distrik begin en is amptelik op 31 Januarie 2023 op die plaas Remhoogte geopen.




