Chande Booysen, wat namens Jabulani Zuma optree, bespreek met hom ’n dokument tydens Maandag (11/04) se hofverrigtinge.

Foto: Charné Kemp

Op die dag dat oudpres. Jacob Zuma se korrupsieverhoor oor die destydse wapenskandaal in Pietermaritzburg uitgestel is en hy weens gesondheidsprobleme nie in die hof verskyn het nie, het sy naam in ’n moordverhoor in Kimberley opgeduik.

Zuma se beweerde eersgeborene, Jabulani Wilson Zuma (62), word saam met ses ander beskuldigdes aangekla van onder meer die moord op multimiljoenêr Piet Els en die aanranding sy vriendin, Rikkie Alsemgeest, op sy plaas buite Kimberley.

Dié aanval is in die oggendure van 24 Januarie 2018 in Els (86) se huis op sy plaas Carters Ridge net buite Kimberley uitgevoer.

Piet Els is na bewering gemartel en Alsemgeest met ’n strykyster gebrand. Els, ’n welvarende sakeman, het weke later aan sy beserings beswyk.

Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37), albei van Lesotho, Lizbeth Ndlala (56), Themba Lawrence Maja (68) en Oupa Jeffrey Mahomane (44), almal van Pienaar in Mpumalanga, Samson Sam Mbokane (63) van Mbombela in Mpumalanga, en Zuma van Mtubatuba, KwaZulu-Natal, staan tereg op ses aanklagte van onder meer huisbraak, aanranding, moord en twee aanklagte van die onwettige besit van ’n 7.65 mm-Walther-pistool en ’n .30-30-Winchester-geweer.

Jan Adriaan Els, die oorledene se jongste seun, het Maandag (11/04) in die hooggeregshof in Kimberley getuig dat sy pa oudpres. Jacob Zuma geken het, hoewel hy nie weet hoe diep die vriendskap was nie.

Volgens hom is Krugerrande, brons- en silwermunte, kontant en antieke sakhorlosies uit die kluis in sy pa se slaapkamer vermis.

Die kluis is tydens die aanval met ’n hoekslyper oopgesny.

Jan se trouring is ook uit die kluis gesteel.

Hy het ook ’n bewysstuk, ’n goue ring wat in twee stukke gebreek is, as sy pa se trouring herken. Die diamant wat in die ring geset was, is vermis.

In kruisondervraging het hy gesê hy herken nie een van die beskuldigdes nie, maar dit kan moontlik wees dat die moordenaars aan sy pa bekend was.

Lt.kol. Catherine Mbingo het in haar getuienis gesê Zuma het op 17 Maart 2021, toe sy ’n verklaring van hom afgeneem het, aan haar gesê hy is Jacob Zuma se eersgebore kind.

In dié verklaring, wat Zuma ontken hy afgelê het, beskryf hy die tydstip waarop die voorval plaasgevind het.

Volgens die verklaring het hy ’n oproep ontvang van ’n medebeskuldigde, Samson Mbokane, wat gevra het hy moet hom vir werksdoel­eindes na Kimberley neem. Zuma het op ’n onbe­kende datum van Mtubatuba gery en êrens langs die pad motors met ene Abraham Mashiloane geruil. Vandaar het Zuma en Mbokane na bewering ’n egpaar (wie se name nie in die verklaring genoem word nie) en ’n ander mede­beskuldigde, Oupa Maho­mane, in Nelspruit opgelaai en teen 17:00 by ’n huis in Kimberley aangekom. 

Mahomane het kwaad geword toe die betrokke huiseienaar nie ’n ritueel vir hom wou uitvoer nie, waarna hy lank weg was. Toe Mahomane ná middernag terugkom, het hy glo ’n silwer boks en ’n groot tas by hom gehad waarin munte en baie kontant was.Later het nog drie mans, gewapen met ’n pompaksie-haelgeweer, by die huis aangekom.

Zuma het in opdrag van Mahomane die geld en munte onder die teen­woordiges in die huis verdeel, waarna Mahomane en die drie mans weg is. Zuma en die ander het aan die slaap geraak.

Die huiseienaar het later gesê hulle moet sy huis verlaat. Zuma was kwaad toe Mahomane saam wou terugry, omdat hy vir werks­doeleindes in Kimberley sou agterbly. Sy drie sakke sou ook nie in die motor pas nie. Hy het niemand toegelaat om oor inhoud uit te vra of daaraan te vat nie. 

Zuma het die egpaar en Mahomane in Nelspruit afgelaai, en later ook vir Mbokane. In Benoni het hy weer motors met Mashiloane geruil.

Die verhoor voor regter Lawrence Lever duur voort.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article