Petrol is sedert Woensdag (05/07) ’n katspoegie goedkoper, maar diesel word vir die eerste keer in vier maande duurder.
Goeie nuus in die winter, wanneer baie mense gasverwarmers gebruik, is dat die prys van gas skerp daal.
Die Sentrale Energiefonds het Maandag bekend gemaak brandstofpryse verander dié week soos volg: 95-oktaan-petrol is 17c per liter goedkoper; 93-oktaan-petrol 24c per liter goedkoper; diesel met 0,05% swael 18c per liter duurder; diesel met 0,005% swael 12c per liter duurder; paraffien 5c per liter goedkoper; en gas R2,96 per kilogram goedkoper.
Dit is die eerste styging in die dieselprys nadat dit drie maande agtereenvolgens gedaal het. Diesel is selfs ná vandeesweek se styging die goedkoopste sedert Maart verlede jaar.
Die effens sterker rand die afgelope maand is die grootste rede vir die daling in die petrolprys.
– Hanlie Stadler


