Drie mans, waaronder twee pastore, asook hul ondernemings het Woensdag 10 Mei weer in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Kimberley verskyn op 62 aanklagte wat bedrog, korrupsie en geldwassery van R1,9 miljoen insluit.
Die drie aangeklaagdes is Jeremia Madiba (59) van Pretoria, Business Against Crime, Simphiwe Dywili (46) van Kimberley, Christians for Peace in Africa, Media Engineering and Office Solution, en Lerata Mokoteli (40) van Bloemfontein en Lorabi 101.
Dywili verteenwoordig ook Business Against Crime, Christians for Peace in Africa en Lorabi 101 (nie-winsgewende organisasies), en Mokoteli verteenwoordig Media Engineering and Office Solution.
Madiba, as ’n voormalige uitvoerende hoof van AgriSeta, word van bedrog en die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur aangekla. Die ander beskuldiges en ondernemings word ook afsonderlik en gesamentlik op bedrog, korrupsie en geldwassery, en alternatiewe aanklagte vervolg.
Die staat voer aan Madiba het vanaf 29 Maart 2016 tot 13 Junie 2016 op onwettige en nalatige wyse opgetree toe hy ’n diskresionêre toelaag van meer as R1 miljoen van AgriSeta aan Business Against Crime goedgekeur het wat gebruik sou word om opkomende boere te mentor.
Sy pligte as uitvoerende hoof was om billike, regverdige, deursigtige, mededingende en koste-effektiewe aankoopregulasies te volg om vrugtelose uitgawes en misdadige misbruik van openbare geld te voorkom.
Die beskuldigdes het glo saamgewerk om bedrieglike voorleggings aan AgriSeta te maak dat die memorandum van die ooreenkoms op 30 Maart 2016 goedgekeur is, maar dit was eintlik op 13 April 2016. Hulle het voorgegee die kontrak tussen AgriSeta en Business Against Crime is op 30 Maart 2016 volvoer, terwyl dit inderdaad eers 13 Junie 2016 was.
Madiba het glo ook nie die outoriteit gehad om diskresionêre toelaes bo R1 miljoen goed te keur nie. Die staat voer aan die voorlegging dat 50 boere in samewerking met Dipalemo Strategic Trading Services opgelei sou word, was vals. Die Noord-Kaapse Bemagtigingsakademie word nie deur Dipalemo Strategic Trading Services bestuur om opleiding en mentorskap in die landbousektor te verskaf nie.
Die gehaltebeheer en uitvoering van die beoogde opleidingsprogramme en die inwerkingstelling van die projek deur die Noord-Kaapse Bemagtigingsakademie is nie deur Dipalemo Strategic Trading Services bestuur of enige gehaltebeheer toegepas nie.
Tussen 31 Maart 2016 en 28 Oktober 2016 is AgriSeta en die 50 leerlinge mislei dat Dipalemo Strategic Trading Services en Northern Cape Empowerment Academy saam die opleiding bestuur en gehaltebeheer sou toepas. Van die beskuldigdes het na bewering voorgegee die opleiding en mentorskapprogram is deur AgriSeta geakkrediteer. Die opleidingsertifikate in kosproduksie wat hulle ontvang het, was na bewering ongeldig.
Dywili, as hoof van Business Against Crime, het tussen 29 Julie 2016 en 23 Februarie 2017 glo verskeie gunslone van verskillende bedrae aan Media Engineering and Office Solution betaal. Die betalings was tot Mokoteli se voordeel, en ook sodat Dywili vir Madiba kon beïnvloed om sy pligte te versuim en datums van ooreenkomste en betalings op dokumente te verander. Geld is ook aan Christians for Peace in Africa betaal.
Die betalings is na bewering op ’n wyse gedoen om die werklike oorsprong te verdoesel.
Dywili en Lorabi 101 het op 30 Julie 2016 sowat R25 000 in kontant gehad, wat na bewering uit korrupsie voortgespruit het.
Die drie mans wat elkeen op borgtog van R5 000 vrygelaat is, verskyn weer op 26 Mei in die hof.



