’n Man wat ’n pastoor in Bloemfontein is, is verlede week in die gespesialiseerde handelshof in Kimberley aan 51 aanklagte van bedrog en twee van geldwassery skuldig bevind en vonnisse van onderskeidelik tien en vyf jaar opgelê.

Dit kom nadat drie mans en hul ondernemings aanvanklik daarvan aangekla is dat AgriSeta met R1,9 miljoen bedrieg is vir landboukursusse vir 51 opkomende boere wat nie geakkrediteer was nie.

Lerata Mokoteli (40) van Bloemfontein se vonnisse is in die geheel vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat hy R1,9 miljoen aan AgriSeta terugbetaal. Die aanklagte teen sy medebeskuldigde, Simphiwe Dywili (46), ook ’n pastoor wat in Kimberley woon, is ná ’n ooreenkoms met die staat teruggetrek.

Intussen moet Jeremia Madiba (59) van Pretoria en voormalige hoof van AgriSeta weer op 23 Augustus in die hof verskyn weens aanklagte van die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.

Die staat het aangevoer dat Madiba tussen 29 Maart 2016 en 13 Junie 2016 op onwettige en nalatige wyse opgetree het toe hy ’n diskresionêre toelaag van meer as R1 miljoen van AgriSeta aan Business Against Crime (BAC) goedgekeur het wat gebruik sou word om ontluikende boere te mentor.

Bedrieglike voorleggings is aan AgriSeta gemaak dat die ooreenkoms op 30 Maart 2016 goedgekeur is, maar dit was eintlik op 13 April 2016. Daar is voorgegee die kontrak tussen AgriSeta en BAC is op 30 Maart 2016 uitgevoer, terwyl dit tussen dit inderdaad eers 13 Junie 2016 was.

Madiba het glo ook nie die outoriteit gehad om diskresionêre toelae bo R1 miljoen goed te keur nie. Die betalings is na bewering op ’n manier gedoen om die werklike oorsprong te verdoesel.

Die staat voer aan die voorlegging dat boere in samewerking met Dipalemo Strategic Trading Services opgelei sou word, was vals. Die Noord-Kaapse Bemagtigingsakademie word nie deur Dipalemo Strategic Trading Services bestuur om opleiding en mentorskap in die landbousektor te verskaf nie. Die opleidingsprogramme en die inwerkingstelling deur die Noord-Kaapse Bemagtigings­akademie is nie deur Dipalemo Strategic Trading Services bestuur en geen gehaltebeheer is toegepas nie.

Die opleidingsertifikate in kosproduksie wat die boere ontvang het, was ongeldig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article