‘Pasiënt’ gou weer in hof ná skietdood van twee Kby-polisielede

Die verdagte, Daniel Wilfred Alberts (38), Donderdag (24/08) in die hof in Kimberley.

Foto: Helena Barnard

Daniel Wilfred Alberts (38), wat van die moord op twee lede van die blitspatrollie in Kimberley aangekla is, het met sy eerste hofverskyning aangevoer dat hy ’n psigiatriese pasiënt is wat voorheen in 27 psigiatriese inrigtings opgeneem was.

Alberts, met ’n Pretoriase adres, het Donderdag (24/08) vlugtig in die Kimberleyse landdroshof verskyn op twee aanklagte van moord, drie van roof met verswarende omstandighede, en die diefstal van ’n sedanvoertuig en ’n skootrekenaar.

Die verdagte, Daniel Wilfred Alberts (38), Donderdag (24/08) in die hof in Kimberley.
Daniel Alberts

Daniel Wilfred Alberts (38) tydens sy eerste hofverskyning in Kimberley op Donderdag (24/08).

Dit was sy eerste hofverskyning nadat hy op 22 Augustus in hegtenis geneem is.

Alberts het in ’n rooi-en-blou gholfhemp, roeskleurige kortbroek en leerskoene sonder sokkies in die hof verskyn. Hy het sy voorkeurtaal as Engels aangedui.

Sy regsverteenwoordiger van Regshulp SA, Shan Davids, het aan die hof gesê Alberts is beseer toe hy in hegtenis geneem is. Hy beweer hy is oral oor sy lyf met die vuis geslaan, dat sy polse beseer is, hy ’n blou oog opgedoen het en dat hy bloed gebraak het. Nicola van Niekerk, staatsaanklaer, het gesê die polisieverslag maak geen melding daarvan dat Alberts by sy inhegtenisneming aangerand is nie.

Dié inhegtenisneming kom ná ’n wilde jaagtog en skietery op die betrokke Dinsdagoggend in Kimberley waartydens die 45-jarige sers. Kediemetse Masilo en die 35-jarige konst. Okaetse Mandindi doodgeskiet is.

Die oorledenes, sers. Kediemetse Masilo (45) en konst. Okaetse Mandindi (35) van die Kimberley-blitspatrollie, wat op Dinsdag 22 Augustus in Kimberley doodgeskiet is.

‘n Meer onlangse foto van sers. Kediemetse Masilo (45).

‘n Meer onlangse foto van konst. Okaetse Mandindi (35).

Die lede van die polisie het dié dag glo inligting ontvang van ’n gehuurde sedanvoertuig wat vermoedelik gesteel is en vanaf Bloemfontein na Kimberley onderweg is, het brig. Mashay Gamieldien, polisiewoordvoerder, in ’n verklaring gesê.

Masilo en Mandindi het die voertuig glo opgemerk toe dit Kimberley op die N8 binnery.

Die verdagte het van die N8 afgedraai, en volgens ’n sekuriteitswag by die toegangshek na die Transnet-perseel in Austenstraat het ’n wit Hyundai-voertuig deur die hek gejaag sonder om te stop.

Die voertuig het glo deur ’n tweede hek op die perseel gebars, waarna dit in ’n sloot beland het.

Die verdagte het dié gehuurde en vermoedelik gesteelde sedanvoertuig, waarin hy van die blitspatrollielede weggejaag het, in ’n sloot op die Transnet-perseel in Kimberley laat beland.

Masilo en Mandindi, wat die voertuig gevolg het, is op dié perseel doodgeskiet.

Die verdagte, wat gewapen was, is glo gesien waar hy in die rigting van die Diamond Pavilion Mall gehardloop het.

Teen vroegmiddag Dinsdag 22 Augustus, het polisielede en werknemers van Transnet geskok vanaf ’n afstand na die ongeluk- en moordtoneel toegekyk.

Hy is eers later die dag by Riverton, ongeveer 30 km buite Kimberley, in hegtenis geneem.

Die minister van polisie, Bheki Cele, en ander hooggeplaastes het Woensdag ’n besoek aan die gestorwe polisielede se families gebring.

Polisielede, bure en omstanders Woensdag tydens die minister van polisie se besoek aan die gesin van die gestorwe konst. Okaetse Mandindi in Galeshewe.

Op ’n nuuskonferensie het Cele gesê dat die oorledenes met ’n R5-geweer geskiet is, en volgens hom is elkeen met vier skote gedood. Hy het ook na die verdagte verwys wat glo agt keer vantevore op verskillende aanklagte in howe in meer as een provinsie verskyn het.

Cele het gesê die twee oorledenes se gesinne het verwag om hulle die aand ná werk weer te sien, maar nou moet die kinders sonder ’n ouer grootword.

Daniel Alberts

Die minister van polisie, Bheki Cele, tydens die nuuskonferensie wat Woensdag 23 Augustus in Kimberley plaasgevind het.

Die oorledenes se families het tot ’n amptelike begrafnis toegestem.

Masilo se begrafnisdiens het Sondag (27/08) in die Ipelegeng-saal in Schweizer-Reneke plaasgevind.

Mandindi se begrafnis vind eerskomende naweek in Pampierstad plaas.

Alberts het met sy eerste hofverskyning aangedui dat hy nie om borgtog gaan aansoek doen nie.

Landdros Leon Blaauw het hom vir sielkundige waarneming verwys.

Alberts se volgende hofverskyning is op 5 Oktober, wat waarskynlik virtueel sal plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article