Beplan solank aan ’n dagbesoek na onder meer die Mokala- Nasionale Park buite Kimberley, of die Augrabies- Nasionale Park naby Kakamas, want Sanparke se jaarlikse Suid-Afrikaanse Nasionale Parke-week duur van 11 tot 16 September.
In hierdie week sal dagbesoekers wat Suid-Afrikaanse burgers is gratis toegang tot die meeste van die 22 nasionale parke kry. Dit sluit nie gratis toegang tot verblyfgeriewe en ander toeriste-aktiwiteite in nie. Sommige parke sal die gratis toegang verleng om die naweek van 17 en 18 September in te sluit.
Ander nasionale parke in die Noord-Kaap wat dagbesoekers ook in hierdie week gratis kan besoek, is die Kgalagadi-oorgrenspark en die Ai-Ais Richtersveld-oorgrenspark.
Dit is die 17de jaar dat Suid-Afrikaners gratis toegang tot die land se nasionale parke kan kry.
Hapiloe Sello, waarnemende hoof van Sanparke, sê die week is ingestel om ’n trots in Suid-Afrika se natuurlike, kulturele en historiese erfenis te kweek, wat deur ’n stelsel van nasionale parke beskerm word.
Besoek Sanparke se webblad vir inligting oor die individuele parke.
– Netwerk24



