’n Pa, swanger ma, hul jong kind en twee susterskinders is onder die sewe mense wat in ’n botsing sowat 15 km buite Kuruman op die R31-pad dood is.
’n Volkswagen Polo en Mazda Midge het Saterdag (24/09) omstreeks 12:00 reg van voor gebots.
Gavin Jacobs (40), sy swanger vrou, Schantel, (39), hul negejarige dogter, Eliza, asook Schantel se susterskinders Carol (14) en George Joseph (40), is op die toneel dood verklaar.
Twee insittendes van die Volkswagen Polo is by die paramedici se aankoms ook dood verklaar.
Carol was ’n gr. 8-leerling aan die Intermediêre Skool Die Kuil. Eliza was in gr. 3 in dieselfde skool.
Schantel en George was munisipale werkers by die Kgatelopele- plaaslike munisipaliteit. Gavin was werkloos.
Die familie was op pad van Kuruman na Daniëlskuil terwyl die insittendes van die Polo waarskynlik van Postmasburg in die rigting van Kuruman gereis het.
Drie mans, almal insittendes van die Volkswagen Polo, is in ’n kritieke toestand na ’n hospitaal in Kuruman geneem. Hulle het na verneem word verskeie beserings, waaronder beenbreuke en kopbeserings, in die botsing opgedoen.
Die name van die twee ander slagoffers en beseerdes kon nie bevestig word nie.
Dit is die tweede groot ongeluk in minder as ’n maand buite Kuruman.
Altesaam 11 mense is op 4 September in ’n ongeluk op die N14 sowat 21 km buite Kuruman dood.
Lt. kol. Sergio Kock, ’n polisiewoordvoerder, sê ’n klag van strafbare manslag word ondersoek.
– Kaydene Davids





