Roodepan-woonstelle
’n Deel van die vervalle Roodepan-woonstelle waar die beton en pleister weens lekkende water verbrokkel. Foto: Charné Kemp

Deshi Ngxanga, provinsiale ANC-sekretaris, sê die uitslag van verlede week se tussenverkiesing in wyk 1 van die Sol Plaatjie-munisipaliteit toon kiesers vertrou steeds die ANC.

“Die opkoms was laer, wat eie van tussenverkiesings is. Die DA het ook steun verloor, maar ons sal ons oog op die PA hou om hul toename in steun teë te werk.

“Kiesers vertrou ons om die uitdagings in die gemeenskap op te los, ongeag negatiewe kritiek.”

Volgens Ngxanga is reeds besluit dat die vervalle Roodepan-woonstelle gesloop moet word en huise vir die inwoners gebou moet word.

“Nog ’n uitdaging is die werkloosheid onder die jeug. Die premier gaan dienslewerings­projekte instel waarby jeugdige werkloses betrokke kan raak. Een daarvan is behuisingsprojekte. Slaggate in Roodepan moet ook herstel word,” sê Ngxanga.

Volgens Harold McGluwa, provinsiale DA-leier, het sy party ’n goeie veldtog gevoer.

“Die verdeling van die stemme onder die opposisie is betreurenswaardig. “Die ANC se oorwinning is nie soseer ’n bevestiging van geloof in die ANC nie, maar eerder ’n ongelukkige verdeling van stemme. Die oorweldigende meerderheid inwoners het nie vir die ANC gestem nie.

“Die enigste manier om die ANC wat aan die mag probeer klou omver te werp, is om ’n sterk opposisie te bou.

“Die DA werk hard om sy steun oor die provinsie heen te verbeter. Inwoners van Kimberley, die Noord-Kaap en Suid-Afrika benodig sterk opposisie om plaaslike, provinsiale en nasionale regerings weer op koers te kry.”

Sharifa Ferris, provinsiale PA-voorsitter, is tevrede met die uitslae, ondanks die verkiesingsbedrog wat die party reeds by die Onafhanklike Verkiesingskommissie aangemeld het.

“Dit lyk kiesers is geregistreer by adresse waar hulle nie bly nie. By sekere huise is tien kiesers geregistreer, hoewel daar minder mense woon. Ons weet nie wie verantwoordelik is nie, maar dit het in Platfontein en Roodepan gebeur.

“Ons het die verkiesing in die twee buurte in Roodepan gewen, maar nie in Platfontein nie. “Die party is redelik nuut in Platfontein en daar was ander faktore ook. Ons het bewys ons is nie die Mickey Mouse-party waarmee ander ons etiketteer nie. Die PA is die enigste party wat onophoudelik gewerk het sedert die 2021-verkiesing.

“Ons bedank kiesers wat hul stem dik gemaak het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article