Ouma Bonnie Pretorius van Upington het Donderdag (06/07) haar 99ste verjaardag gevier.
“Die Here het my sy lewenstou gegee en ek hou nog steeds daaraan vas,” sê sy.
Toe sy 80 jaar oud word, het sy nie gedink sy sal 90 haal nie.
“Ek voel so geëerd om 99 jaar te kon haal.”
Haar 12 kinders, 18 kleinkinders en 28 agterkleinkinders is almal haar vreugde, sê sy. Hilda Kathleen is een van vier kinders van John en Sophie Martin van die plaas Boksputs in die Kalahari en is op 6 Julie 1924 daar gebore. Sy is die enigste oorlewende van die gesin.
Kort ná haar huwelik op 19-jarige ouderdom met die onderwyser Gert Annanias Pretorius het hulle na Upington verhuis, waar haar man ’n betrekking by ’n laerskool gehad het.
“Gert moes baie ver ry om my op sekere dae te kon sien omdat my ouers ons baie streng grootgemaak het,” onthou sy.
Ouma Bonnie was ’n lid van die Verenigende Gereformeerde kerk se sustersbond wat in talle kore opgetree het. Sy was ook ’n Sondagskoolonderwyseres en ’n uithalerklavierspeler. Sy woon saam met haar oudste seun, Nick, en dogter Sylvia, en sê dat Sylvia haar goed versorg. Buiten dat sy in 2016 begin blind raak het, haar bene verswak, en sy onlangs met demensia diagnoseer is, skort niks meer wat haar gesondheid betref nie.
”Ek is regtig nog gesond. Alle eer kom God toe,” sê sy.
Ouma Bonnie is baie lief vir sjokolade en geniet haar tee elke dag.
Die honderdtal lê nog ver, maar dalk is dit haar tog beskore – met God se genade.





