Philippolis, geleë in die Suid-Vrystaat en net meer as 200 km van Kimberley, is die eerste dorp in die Vrystaat om sy 200ste bestaansjaar te vier.
Om dié mylpaal en ryke geskiedenis in die kollig te plaas, word die Oktoberfest van Donderdag 5 Oktober tot Sondag in die dorp aangebied.
’n Verskeidenheid aktiwiteite is deel van die program, onder meer gesprekke oor die dorp se geskiedenis, die verkenning van ’n kunsroete, musiekuitvoerings, konserte, ’n wynfees by die Waterkloof-brouery, ’n mark waarop handgemaakte produkte verkoop word en ’n herwinningswerksessie, asook die aanpak van ’n pretstap en ’n bergfietsroete.
’n Herdenkingseremonie vind Saterdag om 09:00 by die Laerskool Bergmanshoogte plaas. Hiertydens sal onder andere dr. James Liddell, voorsitter van die Philippolis 200-feeskomitee, ’n spreekbeurt kry; prof. Doreen Atkinson, sekretaresse, en van die Karoo Ontwikkelingstigting; asook prof. Sethulego Matebesi van die Universiteit van die Vrystaat (UV).
Boodskappe sal deur Griekwa-leiers oorgedra word, onder andere Barend van Wyk, Cecil le Fleur, AAS le Fleur, dr. Vivian Kok en kaptein Andrew Kraalshoek II.
Op die Nienaberplein in die dorp sal die burgemeester ’n woord van verwelkoming spreek, gevolg deur ’n foto- en kransleggingsgeleentheid. Duiwe word vrygelaat, en kore tree op.
Belangrike mense in Philippolis se geskiedenis sluit onder andere Adam Kok II en III in; die sendeling dr. John Philip, na wie die dorp genoem is; ds. Colin Fraser, skoonpa van president Marthinus Steyn; Emily Hobhouse, met haar eerste weefskool in 1905; en sir Laurens van der Post, wat hier gebore is.
Deel van die dorp se ryke geskiedenis is menige erfenisgebou, waar die verlede en die hede inmekaargevleg bly.
Langste perdekarrit
Inwoners van die dorp is reeds geruime tyd besig om die dorp vir die fees op te knap.
Op Saterdag, omstreeks 12:00, sal ’n feesoptog deur die dorp beweeg met trompoppies, antieke voertuie en meer.
Deel van die optog is Piet Coetzer en sy perdekar met ses swart Vlaamse perde. Coetzer het die afgelope twee jaar bekendheid verwerf deur met dié perdekar en ses perde dele van die Vergete Grootpad-roete, wat vanaf Ceres tot in Kuruman strek, te laat herleef.
Coetzer, van die Senekal-omgewing, begin Saterdag met sy nuutste en langste perdekar-uitdaging: ’n 1 000 km tog weswaarts na Brandvlei in die Noord-Kaap.
Dit is waarskynlik die langste perdekarrit in moderne Suid-Afrikaanse geskiedenis.
Dié Trans-Gariep-ekspedisie strek naastenby al langs die Oranjerivier, en volgens beplanning behoort Coetzer en sy reisgenote op Sondag 29 Oktober in Brandvlei aan te kom nadat hulle deur of naby Luckhof, Douglas, Prieska, Vanwyksvlei, Marydale, Putsonderwater en Kenhardt gery het.
Coetzer nooi belangstellendes om vir ’n dag of twee met eie vervoer en eie voorraad saam te ry. Stuur ’n WhatApp-boodskap na 073-852-7420 om meer inligting aan te vra.
- Vir meer inligting oor die feesnaweek, besoek philippolislegacy.com of die Facebook-blad Philippolis200Festival.




