Wyle Jan en Annerie Louw.

Wyle Jan en Annerie Louw. Foto: Facebook

Annerie Louw (66), wat eerste redakteur van die Kalahari Bulletin in Kuruman was nadat die Volksblad-groep die koerant in 2007 gekoop het, is Saterdagnag (11/07) in ’n hospitaal in Mosselbaai aan kanker dood.

Sy is dood net vier maande ná die dood van haar man, Jan, eertydse skoolhoof van die Laerskool Seodin wat enkele dae ná haar verjaardag gesterf het.

Haar kalmte, diepsinnigheid en humorsin het menige inspireer.

Jacob Keuler, haar ouer broer, het Sondag gesê sy suster het geen vyande gehad nie.

“Sy was die kalm een onder ons, sy het die mooi in alles raakgesien. Sy het Mosselbaai, waar sy en Jan sewe jaar gelede afgetree het, as ‘so naby mooi’ beskryf. Gelukkig was ons ander broer, Stevie Keuler, toe reeds in Mosselbaai om hulle te verwelkom. Sy was baie sportief en kreatief, en boonop begaaf as sangeres en musikant. Sy het vir elkeen van ons ’n gedig met elke verjaardag geskryf en gereeld as orrelis in kerke gespeel.

“As ’n gedugte tennisspeler het sy nooit ’n bal gelos nie, sy het hom altyd teruggeslaan.”

Jacob sê die laaste twee weke was baie swaar nadat Annerie se lewer weens komplikasies ingegee het.

“Haar drie kinders, Linkie van der Westhuizen, Stefan Louw en Gerhard Louw, kon haar weens die Covid-19-pandemieregulasies net een op ’n slag in die hospitaal besoek.

“Gelukkig het hulle sedert die inperking saam gebly, met enkele onderbrekings.”

Annerie word ook oorleef deur haar skoonseun, Herbert, en drie kleinkinders.

Wyle Jan en Annerie Louw.

Wyle Annerie Louw. Foto: Facebook

Christo van Staden, eindredakteur van Volksblad wat destyds belas was met plaaslike koerante, vertel dat hulle die regte persoon moes aanstel om die destydse Kuruman Bulletin vorentoe te neem.

“Hoewel sy as onderwyser geen joernalistieke agtergrond gehad het nie, was die terugvoering uit die gemeenskap dat sy en Jan staatmakers is. Dit, saam het haar geesdrif en opgewondenheid oor die nuwe uitdaging, het die deurslag gegee. En ons was nie ’n oomblik spyt dat ons haar aangestel het nie. Sy was ’n groot sukses as redakteur.”

Van Staden sal haar onthou as ’n stylvolle, talentvolle en opregte mens met ’n warm hart.

“Sy was ’n mens wat ander se lewe aangeraak het.”

Karin Herbert, produksieredakteur, sê Annerie was een van die veelsydigste mense wat sy geken het.

“Ek dink dit is ook waarom sy so ’n uitstekende redakteur van die Kalahari Bulletin was. Sy kon oor enige onderwerp skryf en redeneer, van raadsake, musiek, kuns tot sport. Sy het almal, maak nie saak wie jy was nie, met respek behandel.

“Menseverhoudinge was vir haar belangrik, nie net die verhouding met haar gesin en familie nie, maar ook dié met almal wat haar pad gekruis het. Omgee-mens wat sy was, het sy altyd gehelp waar sy kon.

“Haar liefde vir haar man en hul drie kinders en kleinkinders het uit haar gestraal as sy van hul doen en late vertel het. Vir hulle was sy ’n rots en ’n ware bron van wysheid.”

Retha Hall, wat Annerie in 2007 as advertensiekonsultant leer ken het, onthou sy het hulle ook betrek het wanneer daar konsert gehou moes word.

“Ons het saam gesing en toneel gespeel, nie net gewerk nie. Haar sin vir humor was onverbeterlik.”

Vir Anena Burger, ’n latere redakteur, was Annerie die verpersoonliking van die Kalahari Bulletin.

“Sy was die Bulletin in murg en been, ’n joernalis met ’n magdom kennis wat haar oor ons almal ontferm het. Ons het baie by haar geleer. Sy het haar gemeenskap en sy mense in siel en wese geken en die Kalahari Bulletin het dit reflekteer.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article