Al kan sy nou professor voor haar naam skryf, en al hou sy haarself besig met onder meer navorsing en mentorskap, sê prof. Mia Bothma dat die Noord-Kaap steeds vir haar nie net ’n plek op ’n kaart is nie.
“Dit is ’n plek van herinneringe, ’n plek van emosies wat diep in my siel gebêre is,” sê Bothma, wat sedert 1 Januarie tot mede-professor in bemarkingsbestuur aan die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom bevorder is.
Bothma, gebore en getoë in Kuruman, sê dié dorp se mense het haar geleer wat dit beteken om ’n gemeenskap te wees, om mekaar te help en te ondersteun in tye van vreugde en hartseer.
Haar ouers, Phillip en Ansa van der Merwe, bly steeds in Kuruman, in dieselfde huis waar sy gebore is en grootgeword het.
“Wanneer ek terugdink aan die tyd wat ek in Kuruman deurgebring het, is dit met baie heimweë . . . warm sonstrale wat op my gesig val terwyl ek in die dorpstrate saam met my vriende rondloop, die sagte fluisteringe van die wind deur die kameeldoringbome. Dit alles neem my terug na ’n tyd van sorgeloosheid en vryheid.”
Sy vertel dat die Noord-Kaap se mense ’n kosbare skat is, met harte wat oorloop van omgee en belangstelling in ander.
Bothma het haar skooljare by die Laerskool Kuruman en die Hoërskool Kalahari deurgebring, en by albei hierdie skole het sy passievolle onderwysers gehad wat haar akademiese grondslag gevorm het.
Passie vir studente, navorsing
Ná skool het Bothma BCom aan die Universiteit van Pretoria (UP) studeer, en het sy 15 jaar lank in die private sektor gewerk.
Sy vertel dat sy en haar man, Jacques – ook van Kuruman – in 2012 na Potchefstroom vir sy werk verhuis het.
Daar het sy hom ’n ruk met sy besigheid gehelp en toe die geleentheid gekry om by die NWU betrokke te raak.
“Hoewel die akademie nooit regtig deel van my toekomsplanne was nie, het ek vinnig besef dat ek ’n passie vir studente en navorsing het.
Aan die NWU het sy haar meesters- en doktorsgraad verwerf.
Haar passie en navorsingsveld fokus op bemarking, met ’n besondere klem op die aanlyn omgewing, handelsmerkbestuur en aankoopgedrag.
Benewens haar rol as ’n senior dosent in bemarkingsbestuur, is sy ook onder meer die navorsingsprogramleier by die skool vir bestuurswetenskap.
“My eie akademiese publikasies, sowel as die studieleiding wat ek gee, is daarop gefokus om beter te verstaan hoe kliënte binne die aanlyn omgewing aankope doen, asook hoe handelsmerke moet aanpas om verbruikers se verandering in aankoopgedrag te bestuur.
“Ek glo dat die veranderde landskap van die handelsmerk-omgewing en die toenemende belang in omgewingsbemarking nie net ’n plaaslike invloed het nie, maar ook ’n internasionale invloed.
“Ek wil ’n aktiewe rol speel om hierdie veranderinge te verstaan en te bestuur,” vertel sy.
Mentor jong akademici
Haar aanstelling as mede-professor sedert die begin van die jaar bring ’n groot verandering in haar akademiese verpligtinge.
“Ek is nou betrokke by mentorskap om jong akademici te ontwikkel, en is ook aktief deel van internasionale samewerking met universiteite van oor die wêreld heen.
“Hierdie nuwe rol het my die geleentheid gegee om meer tyd aan my navorsing te wy, wat my passie is.
“Hoewel ek steeds aan honneurstudente klasgee, is my fokus die bevordering van kennis deur navorsing, ’n rigting wat my akademiese loopbaan ’n nuwe energie en doel gegee het.”
As ’n gebore Noord-Kapenaar wat omgee en belangstel in ander, en as iemand met ’n stewige grondslag in die akademie, is haar raad aan jongmense om ’n duidelike plan te hê en doelgerig te werk.
“Fokus op jou studies, stel realistiese doelwitte en werk hard om dit te bereik.
“Maak gebruik van hulpbronne en ondersteuning wat beskikbaar is, en moenie dat teleurstellings jou onderkry nie.
“Leer uit jou foute en verbeter voortdurend. Bly gemotiveerd en hou vas aan jou toekomsplanne. Met deursettingsvermoë en toewyding kan jy jou akademiese doelwitte bereik,” raai sy aan.





