Rolene Strauss

Foto: Verskaf

Lesers van Noordkaap­Bulletin staan ’n kans om dubbelkaartjies te wen om die oggendgeselligheid vir vroue in Kimberley by te woon waarop Rolene Strauss as gasspreker optree.

Strauss, wat al talle krone gedra het – onder meer as Mej. Wêreld én Mej. Suid-Afrika in 2014 – wil vroue in haar praatjie bewus maak van dit wat hulle terughou; wat hul fokus verskuif van hoe God hulle gemaak het om te wees, na hoe die wêreld wil hê hulle moet wees.

In dié praatjie, getiteld “Dra jou goddelike kroon”, wil Strauss graag hê dat vroue “aha-oomblikke” moet ervaar wat hulle in hul lewe kan aanwend.

Strauss is dankbaar dat haar modelwêreld, mediese agtergrond en liefde vir mense saamsmelt om ’n platform te bied om mense te motiveer en positief te beïnvloed.

Sy is benewens ’n motiveringspreker ’n eggenote vir haar man, Daniel, die ma van drie seuns, lewensafrigter, entrepreneur, skrywer en ’n gekwalifiseerde dokter met ’n meestersgraad in filosofie en bestuursafrigting.

Ds. Arina Zandberg van die NG kerk Bakenskop, waar die geselligheid vir vroue aangebied word, sê dit is algemeen dat vroue voel hulle is net nie goed genoeg nie; dat hulle sukkel met selfvertroue.

Ná die praatjie van Strauss en die gesellige saamkuier sal hulle besield en spesiaal voel, glo sy.

In haar deelname aan kompetisies, en ook aan die Mej. Wêreld-kompetisie, het Strauss beleef dat sy met selfvertroue sukkel.

Sy het boonop agtergekom dat soveel vroue met haar identifiseer.

Dit het haar motiveer om verder te studeer en haar agtergrond en ondervinding te kombineer en vir die motiveringspraatjies te gebruik.

Zandberg sê dit is die vierde jaar dat die gemeente ’n geselligheid vir vroue in dié formaat aanbied.

Sy is trots op en dankbaar vir die skeppende vroue wat dit jaarliks organiseer.

  • Strauss tree op Saterdag 5 Oktober om 09:30 op; dit vind plaas op die NG kerk Bakenskop se terrein in Carters Glen. Op die geselligheid sal verskeie stalletjies produkte te koop aanbied, en ’n ligte ete word bedien.
  • Kaartjies kos R300 per persoon. Skakel 082-721-3172 om te bespreek.
  • Om ’n kans te staan om dubbelkaartjies na die oggendgeselligheid vir vroue te wen, kan lesers hul naam, van en selfoonnommer voor of op Maandag 30 September om 17:00 stuur na helena.barnard@media24.com. Die wenners sal Dinsdag telefonies in kennis gestel word.
  • NoordkaapBulletin is die gedruktemediaborg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article