Volgens haar ma was Rolene Strauss, voormalige Mej. Wêreld en Mej. Suid-Afrika vir 2014, die rofste dogtertjie wat bome geklim en foefieslaaids gebou het, maar sy het altyd mooi gelyk terwyl sy dit doen.
Strauss, wat sedert haar tienerjare in die openbare oog is en daarvoor bekend is dat sy (steeds) altyd mooi lyk, tree eersdaags in Kimberley tydens ’n oggendgeselligheid vir vroue op.
In haar praatjie maak Strauss, wat al talle krone as model en skoonheidskoningin gedra het, vroue bewus van dinge wat hulle terughou; dinge wat hul fokus verskuif van hoe God hulle gemaak het om te wees, na hoe die wêreld wil hê hulle moet wees.
“Ek wil hê dat vroue ten minste met een of twee aha-oomblikke van die praatjie moet wegloop en dit in hul lewe aanwend om hulself te sien soos God hulle gemaak het,” vertel sy oor haar praatjie getiteld “Dra jou Goddelike kroon”.
Behalwe ’n motiveringspreker, is Strauss ’n lewensafrigter, entrepreneur en skrywer. Sy is boonop ’n gekwalifiseerde dokter met ’n meestersgraad in filosofie en leierskapsafrigting, eggenote vir haar man, Daniel, en die ma van drie seuns.
“Dit is wonderlik om mense te kan motiveer en positief te beïnvloed deur dit wat jy sê.”
Met haar eerste deelname aan die Mej. Suid-Afrika-kompetisie op 19-jarige ouderdom, het sy besef dat om voor mense te praat inderdaad ’n vaardigheid is.
“Tydens die deelname was ek in die topvyf en ek kon nie my vraag op die verhoog beantwoord nie. Dit het my baie beïnvloed en ek het besef dit is ’n vaardigheid wat ek baie graag wil aanleer.”
Dié vaardigheid kan elkeen in enige beroep gebruik, en selfs in gesinsverband, glo sy.
Dit was vir Strauss aanvanklik vreemd dat mense soveel in haar en haar loopbaanreis belangstel. Sy moes gewoond raak aan die oë op haar, en in haar jaar as Mej. Wêreld het sy besef dat sy met selfvertroue sukkel.
“Soveel vroue het met my identifiseer. Dit het my motiveer om my meestersgraad in filosofie en leierskapsafrigting by die Universiteit Stellenbosch (US) se besigheidskool te doen, en om dit te kombineer en vir my motiveringspraatjies te gebruik.”

‘Gemaak vir die mediese rigting’
Strauss, wat in Volksrust grootgeword het, het as jong kind nie daaraan gedink om modelwerk te doen nie en het balletklasse geneem. Dit was eers toe die enigste balletjuffrou in die dorp verhuis het, dat modelklasse die volgende beskikbare opsie was in haar doelwit om darem “een dogtertjie-ding” te doen.
“So het daar verskeie deure vir my in die modelwêreld begin oopgaan, maar ek het altyd geweet my passie is in die mediese rigting,” vertel sy.
“My ma was ’n verpleegkundige, my pa ’n dokter. Hulle het mekaar in ’n hospitaal ontmoet, en hul huweliksonthaal was in die voorportaal van die mediese fakulteit by die Universiteit van die Vrystaat (UV).
“Ek kon ook altyd sien watter wonderlike impak my pa se beroep as dokter op ander se lewe het.
“Ek spot altyd en sê ek was gemaak om in die mediese rigting te studeer.”
“My ouers het van kleins af aan my verduidelik dat ek ’n unieke baba is en dat God ’n spesifieke doel vir my het.
“Ek was van kleins af eintlik baie trots daarop dat ek ’n proefbuisbaba is en het eers later besef dat party mense dit as negatief beskou. Maar ek dink dit is wonderlik dat iemand wat nie kinders kan hê nie, deur so ’n tegniek gehelp kan word.
“Dit het my beslis inspireer om in die mediese rigting te studeer.”

Groot drome as rolmodel
Strauss, die derde Suid-Afrikaanse vrou om as Mej. Wêreld aangewys te word (ná Penny Coelen in 1958 en Anneline Kriel in 1974), het as 15-jarige haar eerste skoonheidskompetisie gewen.
As 16-jarige het sy oorsee gereis vir modelwerk en daar besluit dat sy nie ’n model wil wees nie. Haar mikpunt daarna was akademiese prestasie om keuring vir mediese studie te kry; ’n mikpunt wat sy behaal het.
Tydens die Desembervakansie van haar matriekjaar het haar niggie haar vir die Mej. Diaz-kompetisie in Mosselbaai ingeskryf. Strauss het gewen, en een van die pryse was ’n plek in die halfeindronde van die Mej. Suid-Afrika-kompetisie.
Omdat haar ouers haar grootgemaak het om enige geleentheid met albei hande aan te gryp, het sy dié geleentheid benut.
Tydens deelname hieraan het sy besef dat daar ’n groot verskil tussen modelwerk en kompetisies soos dié is waar deelnemers ’n rolmodel is.
Hierna het Strauss en Daniel, toe nog haar kêrel, saam oor haar volgende deelname aan die Mej. Suid-Afrika-kompetisie gedroom.
“Ek het groot drome daaroor gehad, want ek is nie iemand wat iets half doen nie. Ek en Daniel het saam besluit wanneer ek die tweede maal hiervoor inskryf, droom ons groot tot by die Mej. Wereld-kompetisie.”
Glasbal of rubberbal?
Hoewel Strauss nie in die mediese rigting praktiseer nie, leef sy haar passie vir mense uit deur praatjies, deur aanlynkursusse te ontwikkel en deur lewensafrigting wat sy doen.
“Ek mis die mediese wêreld, maar ek waardeer die feit dat ek in beheer is van my eie tyd. Hoewel ek baie werk, kan ek kies hoe ek tyd met my kinders kan deurbring.”
Oor hoe Strauss al haar verpligtinge as openbare figuur, vrou en ma balanseer, sê sy dat om te prioritiseer een van die wonderlikste tegnieke is wat sy aangeleer het.
“Wanneer jy balle in die lug gooi, is sekere balle glasballe en ander rubberballe. Die rubberballe kan jy laat val; hulle sal hop en jy kan hulle optel. Maar as die glasballe geval het, is hulle gebreek.”
Deur te prioritiseer, bepaal ’n mens watter verpligtinge glasballe is en watter van rubber.
“Vir my, met drie seuntjies wat al drie nog jonger as sewe jaar is, is my verhouding met hulle glasballe.”
- Strauss tree op Saterdag 5 Oktober om 09:30 by die NG kerk Bakenskop by die kerkterrein in Carters Glen in Kimberley op.
- Tydens die geselligheid sal verskeie stalletjies unieke produkte te koop aanbied, en ’n ligte ete word bedien.
- Kaartjies kos R300 per persoon. Skakel 082-721-3172 om te bespreek.
- NoordkaapBulletin is die gedruktemediaborg.





