Penny Ochler

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Penny Ochler, ’n Noord-Kapenaar wat in talle dorpe in die provinsie gewoon het, en vir 34 jaar in Kuruman, is onlangs op 83-jarige ouderdom oorlede.

Magrieta Ochler (née Cloete) is op 19 Mei 1939 by Friersdale in die Gordonia-distrik gebore. Sy het by die Laerskool Friersdale en Hoërskool Keimoes skoolgegaan, waar sy gr. 10 voltooi het.

Sy was as “Meisie” bekend, maar vir vriende was sy “Penny”, en vir haar kinders en kleinkinders “Ouma Penny”.

Ouma Penny het in 1956 in Keimoes haar opleiding in die poswese begin, waarna sy in 1958 na Daniëlskuil verplaas is en in dieselfde jaar na Koegas. Daar het sy vir Charles Ochler ontmoet wat aanvanklik ’n skakelbordoperateur was, en vanaf 1956 ’n lid van die polisiediens. Hulle is in 1959 getroud.

Oupa Charles, in 2004 oorlede, was die enigste Ochler in Suid-Afrika wat seuns gehad het. Die Ochler-egpaar het vier kinders – Riaan, Elize, Monica en Charlie – gehad. Charlie is in 2005 in ’n motorongeluk tussen Kuruman en Vryburg oorlede, en Elize in 2021 weens kanker. Ouma Penny het haar versorg tot op haar einde. Riaan, die oorlewende seun van die egpaar, het ’n seun, Charl.

Oupa Charles is in 1966 as stasiebevelvoerder by die Koopmansfontein-polisiekantoor aangestel, en daarna was hy vir talle jare by Koegas, gevolg deur verplasings na Griekwastad en Lime Acres. Hy is in 1989 na Kuruman oorgeplaas.

Ouma Penny het telkens ’n oorplasing in die poswese gekry, maar het later jare ’n oorplasing na die administratiewe afdeling van die polisie aangevra.

Oupa Charles is in 1992 medies ongeskik verklaar en Ouma Penny het in 1998 afgetree.

Die Ochler-egpaar het ’n groot vriendekring opgebou, en met van hulle het Ouma Penny tot op die laatste nog kontak behou.

Na haar man oorlede is, het sy in hul huis in Kuruman gebly tot in Januarie 2022, waarna sy vir haar ’n eenheid by die Heuwelsig-aftreeoord gekoop het. Sy het egter vir slegs ’n kort rukkie daar gebly. Ná 34 jaar in Kuruman het sy vanaf September by haar kinders in Kaapstad gewoon. In Januarie het sy met die ondersteuning van haar kinders haar wooneenheid in Kuruman opgepak.

Sy het daarna in die Kaap gebly waar haar kinders haar versorg het tot haar afsterwe op 10 Februarie weens asbestose longkanker.

Ouma Penny was ’n sagmoedige persoon maar met ’n wil van haar eie. Sy het nooit negatiewe kommentaar of ’n lelike woord vir enigeen gehad nie. Sy het nie kwaad gesien, gehoor of gepraat van ander nie.

Sy laat haar oudste seun Riaan en jongste dogter Monica Schutte agter, asook ses kleinkinders en twee agterkleinkinders.

  • Ouma Penny se troosdiens vind op Dinsdag 7 Maart om 11:00 by die Bikers’ Church in Duikerstraat, Kuruman, plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article