The Bateleurs, ’n nie-winsgewende organisasie en groep vlieëniers wat hul tyd, helikopters en vliegtuie inspan om wetenskaplikes en natuurbewaarders in hul werk te help, het onlangs vrywillige vlieëniers van die Noord-Kaap genooi om by hulle aan te sluit tydens ’n inligtingsdag oor die bewaring van bedreigde aasvoëlspesies.
Die inligtingsdag is deur die Trust vir bedreigde Natuurlewe (EWT) aangebied. Steve McCurrach van The Bateleurs sê hulle is sowat 200 vlieëniers wat in hul vlugte oor suidelike Afrika oor volhoubare natuurbewaring geleer het. Die organisasie verskaf brandstof aan die vlieëniers, en word deur maatskappye en skenkers geborg.
Hul dienste is ’n paar jaar gelede gebruik om rooibekrenostervoëls wat ’n halwe eeu lank weens die gebruik van veedipstowwe uit die Bo-Karoo verdwyn het, vanaf Limpopo na die Mokala- Nasionale Park naby Kimberley te bring vir hervestiging.
Die voëltjies vreet parasiete soos vlooie en muskiete van groot wild.
Vlieëniers het gehelp om vanuit die lug lelkraanvoëleiers te tel, in ’n nes wat die voëls op ’n eiland in ’n onbegaanbare moeras gebou het.
Ondersoekende joernaliste van Carte Blanche het hul hulp versoek om ’n afgesperde mynterrein wat slikdamme ingevolge wetgewing nie korrek bestuur nie, vanuit die lug af te neem om die bewerings te ondersoek.
“Ons het tydens ’n droogte in die noorde van KwaZulu-Natal foto’s van krokodille en seekoeie vanuit die lug geneem wat by ’n wêrelderfenis-terrein en strandmeer saamgedrom het om vars water by ondergrondse waterbronne te verkry. Dit blyk die vars ondergrondse waterbronne is gevorm deur doudruppels wat oor eeue heen deur die sandduine na onder beweeg het.”
Hulle word ook ingeroep om met sensusopnames deur in ruitpatrone oor ’n betrokke gebied te vlieg.
“Ons vlieg kritiek beseerde diere na dierehospitale, of diere wat in ander gebiede hervestig word. Ons het al menigmaal leeus wat onder verdowing is, van een plek na ’n ander gevlieg. In sulke gevalle is dit te stresvol vir die dier om per pad vervoer te word, wat ure en dae kan duur. Diere kan van stres vrek. Wildehonde moet in volledige groepe verskuif word omdat hulle tropdiere is. Ek was ook al betrokke om eierselle van renosters in afgeleë gebiede dringend na laboratoriums in stede te vervoer.”
Die vrywilligers moet ingryp wanneer mense die balans in die natuur versteur.
“Op ’n keer het ons ’n klomp bergskilpaaie van KwaZulu-Natal na die binneland teruggebring. Die skilpaaie is deur mense op die pad opgetel en huis toe geneem, totdat hulle die reptiele nie meer kon versorg nie en hulle na ’n rehabilitasiesentrum gebring is. So ook word ietermago’s wat van stropers afgevat is, in die natuur hervestig.”
Hulle het al kuslangs gevlieg en vissermanne afgeneem wat op foto’s getel is om te bereken hoeveel ton vis per dag uit die see met ’n visstok of handlyn gehaal word.
Natuurbewaringsorganisasies of navorsers wat hul hulp benodig, kan op die webwerf aansoek doen. Die direkteure oorweeg elke versoek, waarna die vlieënier en brandstof aan die goedgekeurde versoek toegestaan word.
Vir meer inligting, besoek bateleurs.co.za.





