René van Reenen op die kampus van die universiteit in Siberië waar sy onlangs as ’n elektriese ingenieur gekwalifiseer het – ná vier jaar van studeer in Russies.Foto: Larisa Fedyaeva


Van Orania na Siberië. Van skoolgaan in Afrikaans tot studeer in Russies.

Dit is die verhaal van René van Reenen, wat haar studie in elektriese ingenieurswese onlangs aan die Politegniese Universiteit Tomsk in Siberië voltooi het – nadat sy vier jaar lank in Russies daarvoor studeer het.

Sy sou na verwagting vandag (15/07) reeds ‘n werkonderhoud in Johannesburg bywoon, nadat sy Woensdag uit Siberië vertrek het.

Van Reenen het haar uiteindelike projek voorgelê en die Russiese beoordelaars sodanig beïndruk dat hulle haar ’n vyf – die hoogste moontlike punt – gegee het.

“Ek kon dit nie glo nie – ek het ten beste ’n drie verwag, want my tema was nogal moeilik,” sê die 24-jarige oor haar uitslag.

“Dit maak my regtig trots. Ek wou myself aan myself bewys, en aan my ouers en my dorpie en al die mense wat gedink het ek is mal om in ’n vreemde taal en ’n vreemde land te kom studeer.”

Van Reenen het haar hoërskooldae in Orania deurgebring, waarheen die gesin van Kaapstad af verhuis het toe sy 12 jaar oud was.

Daar was nie veel aan haar skoolpunte wat haar toekomstige akademiese paadjie voorspel het nie.

“Toe ek in gr. 10 vir psigometriese toetse gegaan het, het die sielkundige vir my gesê hy verstaan nie hoe my akademiese punte so laag is nie.

“Wanneer ek nou terugkyk, dink ek my motivering was maar net laag en ek was lui. Ek het nie regtig die waarde van goeie skoolpunte besef nie, en daar was in elk geval soveel ander dinge om in Orania te doen.”

In haar matriekjaar moes Van Reenen egter aan haar toekoms begin dink, en toe haar pa daardie jaar sonkrag by hul huis aanbring, was sy nuuskierig genoeg daaroor om te droom van ’n toekoms as ingenieur.

Skielik het sy navorsing gedoen oor universiteite, maar net in die buiteland.

“As ek in Suid-Afrika geswot het, sou ek waarskynlik ’n oorbruggingskursus moes doen, maar ek wou in elk geval nie dit doen nie – my plan was van die begin af om oorsee te gaan studeer.”

Ná matriek het sy haar N4- en N5-kwalifikasie in Suid-Afrika binne sewe maande deur die pos verwerf, en toe lees haar pa in ’n berig dat die Russe buitelanders nooi om aan hul universiteite te studeer.

“Ons het daaroor gaan nalees en gesien dit sou ons sak pas – en besluit ek sou Tomsk toe kom.”

Van Reenen sê sy het geen idee gehad hoe ver Tomsk van die huis – of selfs van die Russiese hoofstad, Moskou – is totdat sy in Oktober 2017 daar aangekom het nie. Haar grootste kopsprong was egter die taal.

“Ek het aanvanklik vir meganiese ingenieurswese ingeskryf en voorberei om in Engels te studeer. Maar toe roep die hoof van die fakulteit my in en sê dis beter as ek in Russies swot, omdat die dosente se Engels eintlik te swak is om my te leer.

“Ek het besef ek moet in elk geval leer Russies praat om in Tomsk oor die weg te kom.”

Nege maande later het Van Reenen ’n B1-sertifikaat in Russies verwerf, en was sy vaardig genoeg in die taal om haar vir die kursus in elektriese ingenieurswese in te skryf.

“Met Suid-Afrika se huidige kragprobleme is daar natuurlik ook baie potensiaal vir elektriese ingenieurs,” meen sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article